Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

05 November 2017: Dr. Tinus van Zyl

Lees preke

Gesamentlike diens – 5 November 2017

Belydenisaflegging en Doop

Reformasie 500 – Solus Christus

Skriflesing:    Efesiërs 2:1-10

SLIDE 1 – Wat glo jy?

Wat glo jy? Wie glo jy? Wie se woord is nog deesdae betroubaar?

Die reformasie van 500 jaar terug het tot ‘n groot mate ontstaan omdat die kerk sy geloofwaardigheid verloor het en mense begin sê het: Ons glo julle nie meer nie. Ons vertrou julle nie meer.

Hierdie suspisie oor die kerk se geloofwaardigheid wat tot vandag tot voortduur, nog baie meer as in die tyd van die reformasie, het ‘n goeie en ‘n slegte kant.

Aan die een kant is dit goed as mense nie sommer die kerk glo nie, want dit lei daartoe dat mense self die Bybel begin lees en self begin soek na God se betroubare woord, eerder as mense se onbetroubare woorde.

Maar aan die anderkant het dit dwarsdeur die geskiedenis tot vandag toe gelei tot geweldige konflik en skeurings in die kerk en samelewing, wat selfs gelei het tot grusame geweld, vervolging en oorloë.

Die probleem is, as jy niemand glo nie, as jy niemand meer vertrou nie, dan glo jy laterhand net jouself, en jy is nie baie geloofwaardig of betroubaar, net daar op eie nie. As elke mense self die waarheid het, as elke mens net homself glo, dan het niemand die waarheid nie en dan het niemand geloof nie.

SLIDE 2 - Glo jy in jouself?

Meer as ‘n honderd jaar terug het die geniale skrywer G.K. Chesterton in sy boekie Orthodoxy geskryf dat as jy mense soek wat in hulleself glo, dan moet jy ‘n draai gaan maak by ‘n psigiatriese hospitaal.

As jy daar gesels met pasiënte wat skisofrenie en ander soortgelyke siektes het, sal jy ‘n refrein hoor dat die persoon absoluut oortuig is hulle het die volle waarheid, en niemand anders nie.   

Wel, miskien het ons meer in gemeen met sulke mense as wat ons dink, want vandag se leuse is: “Just believe in yourself.”

Chesterton se een goeie vriend vra toe, maar as ‘n mens nie in jouself moet glo nie, waarin moet jy dan glo. En in antwoord daarop, skryf hy toe die boek: Orthodoxy.

En in hierdie boek beskryf Chesterton hoe gesoek het na die waarheid, na iets betroubaar, na iets waarin hy kan glo. En net toe hy dink dat hy dit gevind het, en hy baie trots is op sy oorspronklike ontdekking, toe kom hy agter dat hierdie “nuwe” geloof wat hy ontdek het, is eintlik die eeue oue ortodokse geloof van die kerk.

SLIDE 3 – Jesus is die Heer

Jesus is die Heer! Dit is die geloof wat hierdie jongmense vanoggend in die openbaar bely het. Dit is die eerste en oudste geloofsbelydenis van die kerk.

Dit is ‘n belydenis wat jou lewe kon kos in die eerste eeu na Christus, want almal moes in daardie tyd met ‘n eed sweer dat die Keiser die Here is. Maar die gelowiges het ‘n ander belydenis gehad, hulle het bely: Jesus is die Heer!

Dit is die kern van ons geloof: Jesus is die Heer is! En dit beteken geen aardse mag of gesag of krag het seggenskap oor ons lewe nie.

Ons lewe word nie beheer en bepaal deur die ekonomiese kragte of die politieke magte of die sosiale bewegings van die dag nie, want Jesus is die Heer.

SLIDE 4 – Ons hét saam met Christus opgestaan

Maar hierdie belydenis gaan nog verder: In geloof bely ons ook dat ons deur ons doop saam met Christus gesterf het en saam met Christus opgestaan het.

Dit is die eeue oue doopformulier. In die vroeë kerk van omtrent 400 na Christus, is mense net op Paassondag gedoop. En dan, wanneer die dopelinge in die kerk ingekom het, het die hele gemeente opgestaan, na die Weste gedraai waar die son sak en wat die simbool was van die bose, en dan het hulle gesê: Ons verwerp die duiwel en al sy bose werke. Ons bely ons sonde met berou. En dan het hulle omgedraai na die ooste, waar die son opkom, die simbool van die opstanding van Christus, en hardop bely: Ons draai na Christus toe. Ons het saam met Christus gesterf. Ons het saam Christus opgestaan.

Hierdie gebruik gebeur vandag nog in baie kerke op Paassondag. Want Paasfees is nie net die viering van Christus se sterwe en opstanding nie, maar dit is ook die viering van ons doop, van ons eie sterwe en opstanding saam met Christus.

Toe ek die eerste keer hierdie formulering van die ou doopformulier teëgekom het, het ek gedink dit is ‘n fout en wou dit sommer verander. Ek het gedink dit is ‘n fout dat dit sê “Ons hét saam Christus opgestaan...” – verlede tyd. Ek het gedink dit behoort te sê: “Ons sál saam met Christus opstaan..” eendag met die wederkoms.

Maar dit is nie ‘n fout nie. Want dit is presies wat Paulus hier in Efesiërs 2 sê:  “Deur sy groot liefde het God ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak en ‘n plek in die hemel gegee. Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood.” 

En Paulus herhaal dit in verskeie ander briewe, soos in Kolossense 3: “Julle het gesterwe...” “julle is saam met Christus uit die dood opgewek” en “julle lewe is saam met Christus verborge in God.” 

Wat beteken dit?

Wat op dees aarde beteken hierdie eeue oue geloof van die kerk? Wat beteken dit dat Jesus die Heer is? Wat beteken dit dat ons saam met Christus gesterf het en saam met Christus opgewek is – verlede tyd?

SLIDE 5 – Moenie vertrou op wat jy sien nie

Dit beteken dat as jy om jou kyk en jy sien al die slegte goed wat in die wêreld aangaan: al die geweld, al die korrupsie, al die leuens, al die onreg, al die vyandskap, al die haat, die vrees vir mekaar, dan moet jy nie glo wat sien nie, want daar is ‘n groter werklikheid: Jesus is die Heer.

Dit beteken dat as jy na jou eie lewe kyk, en jy sien net probleme, mislukkings en hartseer in jou lewe, dan moet jy nie glo wat jy sien nie, want jou ware lewe, is reeds saam met Christus weggesteek in God.

Geloof is om te vertrou op dinge wat jy nie kan sien nie, en om die dinge wat jy kan sien, nie te vertrou nie.

SLIDE 6 – Tweeling in baarmoeder

Daar is ‘n mooi storie wat iemand een maal vertel het van ‘n tweeling wat in die baarmoeder was, en wat met mekaar gesels het oor lewe na geboorte.

Die eerste baba vra vir die tweede een: Glo jy in lewe na geboorte?

En die tweede antwoord: Maar natuurlik. Daar moet iets wees na geboorte. Miksien is ons hier om ons voor te berei op dit wat hierna kom.

Nonsens, sê die eerste. Daar is geen lewe na geboorte nie. Watter tipe lewe sal dit wees?

Die tweede sê: Ek weet nie, maar daar sal in elk geval meer lig wees as hier. Miskien loop ons met ons bene en eet ons met ons monde. Miskien het ons ander sintuie wat ons nog nie nou al kan begryp nie.

Die eerste antwoord: Dit is absurd! Loop is onmoontlik. En eet met ons monde? Belaglik! Die naelstring voorsien ons van kos en alles wat nodig het. Maar die naelstring is net so kort. Lewe na geboorte moet dus logieserwys onmoontlik wees.

Die tweede hou vol: Ek glo dat daar iets daarbuite is en dit is anders as hierbinne. Miskien het ons daarbuite nie meer die naelstring nodig nie.

Nonsens, antwoord die eerste. En as daar lewe daarbuite is, waarom het niemand dan nog ooit teruggekom nie? Geboorte is die einde van die lewe, en na geboorte is daar net donkerte en stilte. Daar is niks na geboorte nie. 

Ek weet nie wat daar is nie, sê die tweede, maar ons sal in elk geval vir Mamma ontmoet en sy sal vir ons sorg. 

Mamma, glo jy regtig in Mamma? Dit is lagwekkend! As Mamma bestaan, waar is sy dan nou?

Die tweede sê: “Sy is oral rondom ons. Ons is omring deur haar en ons kom van haar af. Dit is in haar wat ons lewe. Sonder haar, sou hierdie wêreld nie bestaan nie.

“Ek sien haar nie. Dus is dit net meer as logies dat sy nie bestaan nie.” sê die eerste.

Waarop die tweede antwoord: “Soms, as jy stil is en jy fokus en luister baie fyn, kan jy haar teenwoordigheid voel en kan jy haar liefdevolle stem van bo af hoor roep.”

SLIDE 7 – Geloof is om die onsigbare te sien

Een van die belydenisklas se lede het geloof so mooi vir my verduidelik. Ons het gepraat oor dinge wat jy nie kan sien nie, maar wat tog bestaan. En toe sê sy, “Ja, daar is sulke dinge. Want ek kan nie meer my pa sien wat oorlede is nie, maar ek is steeds lief vir hom, en daardie liefde bestaan regtig.”

Om met die oë van geloof die mooi en goeie God raak te sien, en jou vertroue in God se liefde en genade te plaas, beteken nie dat die slegte en lelike dinge van hierdie wêreld verdwyn nie.

Dit beteken juis dat jy al die lelike en slegte dinge wat jy daagliks sien, nie moet glo nie, nie moet vertrou nie, maar dat jy jou vertroue plaas in God, dat jy vertrou dat daar ‘n groter werklikheid is, Jesus Christus, wat al die boosheid en sonde van hierdie wêreld op Homself geneem het toe Hy aan die kruis gesterf het, wat Here is oor hemel en aarde, en wat uiteindelik die magte van die bose en duisternis finaal sal vernietig, ook die dood en die hel.

SLIDE 8 – Argula von Grumbach

Ek wil vir julle die verhaal vertel van een van die minder bekende hervormers, ‘n vrou met die naam Argula van Grumbach.

Argula het nie maklike lewe gehad nie. Alhoewel sy op vroeë ouderdom leer lees het en op 16 in die koninklike hof gaan leef het, is albei haar ouers oorlede toe sy 17 jaar oud was. Haar oom, ‘n leiersfiguur in die hof, het toe as haar voog opgetree, maar toe sy 26 was, was hy in ‘n politieke skandaal betrokke en doodgemaak.

Hierdie insident was waarskynlik die rede hoekom Argula vir die res van haar lewe baie uitgesproke was teen alle vorme van geweld en magsmisbruik.

Argula het in dieselfde jaar wat haar doodgemaak is, getrou en sy het vier kinders gehad. Haar man se gesondheid was swak, en na 14 jaar van getroude lewe is hy oorlede. Drie jaar later het sy weer getrou, maar haar tweede man het twee jaar later gesterf. Slegs een van Argula se 4 kinders het haar oorleef – die ander drie het voor haar gesterf.

So as ons met gewone oë na Argula se lewe kyk, dan het sy ‘n tragiese, swaar en hartseer lewe gehad. Die drome wat sy waarskynlik vir haar lewe gehad het as ‘n slim, geleerde 16-jarige dogter in die koninklike hof, het nie waar geword nie. En tog, tog het die Here haar op wonderbaarlike manier gebruik.

Een van Luther se studente, Arsakius Seehofer, is in Ingolstadt gearresteer en gedwing om sy Lutherse sieninge terug te trek. Niemand sou iets daaroor gesê het nie, maar Argula kon stilbly nie. Sy het ‘n brief geskryf waarin sy hierdie onreg aangeval het. Haar brief is later omgesit in ‘n boekie en dit was ‘n topverkoper, wat deur 14 verskillende drukuitgawes gegaan het.

In haar brief het sy meer as 80 verskillende teksgedeeltes uit die Bybel aangehaal, en sy skryf onder andere:

“Toe ek hoor wat julle aan Arsakius Seehofer gedoen het, is my hart geruk en het my bene gebewe. Wat het Luther en Melanchton onderrig, behalwe die Woord van God? Julle het hulle veroordeel. Maar julle het hulle nie verkeerd bewys nie. Waar lees julle in die Bybel dat Christus, die apostels en die profete mense gearresteer het, verban het, verbrand of vermoor het? Julle sê vir ons om die magistrate te gehoorsaam. Dis reg. Maar nie die pous of die keiser of prinse het enige gesag oor die Woord van God nie.”

En sy sluit haar brief af: “Ek stuur vir julle nie die geskreeu van ‘n vrou nie, maar die Woord van God. Ek skryf as ‘n lid van die kerk teen wie die hel se magte nie staande kan bly nie.”

As ons nie met ons gewone oë na Argula se lewe kyk nie, maar met die oë van geloof, dan sien iets ons iets meer as al die tragiese hartseer in haar lewe. Dan sien ons die werk van Jesus Christus in haar en deur lewe.

Martin Luther het self oor Argula geskryf:

“Die mees eerbare vrou, Argula, is besig om heldhaftig te veg met ‘n sterk gees, vrymoedige spraak en kennis van Christus. Sy verdien dat almal sal bid vir Christus se oorwinning in haar. Sy alleen, tussen al hierdie monsters, volhard met vaste geloof, alhoewel sy erken dat sy dit nie doen sonder innerlike bewing nie. Sy is ‘n unieke instrument van Christus. Ek dra haar aan julle op, dat Christus deur hierdie brose voertuig die magtiges en hulle wat roem in hulle krag, sal verras en verkeerd bewys.”

SLIDE 9 – Wat glo jy?

Wat glo jy? Wie glo jy? As jy kyk na die wêreld rondom jou, of na jou eie lewe, wat sien jy?

Glo jy in jouself? Of glo jy in Christus, wat sê dat daar meer is aan jou as wat jy self kan sien? Christus, wat sê dat jou lewe al reeds veilig is by God, en dat niks of niemand enige iets daarvan kan wegvat nie.

As jy kyk na ander mense: Glo jy wat jy sien? Of sien jy iets meer, iets wat hulle nie eers self raaksien nie, iets wat net met die oë van geloof gesien kan word? Sien jy Christus in hulle raak? Christus wat al die boosheid en sonde van die wêreld op Homself geneem het. 

Moenie vertrou wat jy om jou sien, of selfs wat jy in jouself sien nie. Maak jou oë toe, steek jou hand uit, en plaas jou hand in Christus se hand. Vertrou op Christus. Net Christus. Niks of niemand anders nie. Jesus is die Heer. Hy regeer. Amen.

Terug