Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

05 Augustus 2018 Ds. André Agenbag Klassieke Diens

Lees preke

5 Augustus 2018                                                                               Durbanville Gemeente: Klassieke Diens

Psalm 3

Gebed is om te antwoord op God

Die afgelope twee weke het ons stilgestaan by Psalms 1 en 2. Waar die psalmbundel ten diepste ‘n gebedeboek is, is Psalms 1 en 2 nie gebede in die volste sin van die woord nie; maar eerder die voorbereiding  tot gebed. Ons het gehoor dat gebed is om te antwoord op God. Dat die psalmbundel, net soos die Wet van die Here, uit vyf boeke bestaan en dat dié twee boeke soos twee hande met vyf vingers elk ineengestrengel is. God praat deur die Wet. Ons antwoord deur gebed. Ons sou die prentjie nóg groter kon maak: God praat deur sy Woord, deur die skepping, deur gebeurtenisse en ervarings - ook deur mense. God het altyd die eerste woord. Gebed is altyd die tweede woord – die antwoord: altyd.

Met Psalm 3 begin die gebede van die psalmbundel in alle erns. Die eerste vyf gebede (Psalms 3 tot 7) in die psalmbundel begin op ‘n baie interessante plek: Klag – die geroep om hulp. Dit is sekerlik die mees basiese wegspringplek vir gebed: Daar waar ons weet hoe afhanklik ons van die Here is. Daar waar ons gestroop is van al ons beheer en antwoorde. Waar ons wéét: Nét die lewende Here kan ons help.

Hierdie eerste vyf gebede om hulp wys ook vir ons dat Bybelse geloof geanker is in die werklikheid. Dit is geen ontvlugting van die werklikheid nie. Dit wys ons dat om te bid, is om te bid te midde van die volle spektrum van menslike ervaring. Die gebede in die psalmbundel is die deurleefde en egte gebede van egte mense met hulle eie verhale van mislukkings, oorwinnings, sondes, swakhede en gawes. Maar baie belangrik: Selfs wanneer dit vir my voel asof ek die gesprek inisieër vanuit my nood, bly dit altyd die tweede woord, my antwoord op die God wat al lankal deur sy Woord en Gees met my praat – nee, na mý roep!

Verhale sluit oop; verkrampte en eng dogmas sluit toe

Kom ons leer by die Joodse Tradisie (onder andere Psalms) hoe om te bid. Van al die boeke in die Ou Testament het Jesus (onthou, Jesus was ‘n Jood) die meeste uit Psalms aangehaal. Jesus se laaste woorde (gebede) voor hy sterf is aanhalings uit die psalms:

  • “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Psalm 22:2)
  • “In u hande gee ek my lewe oor.” Psalm 31:6)

Daar is groot wysheid by die Jode. Selfs vandag is daar geleerdes en filosowe wat gaan leer by die Joodse Tradisie se groot wysheid. En een van die geheime van die millennia-oue wysheid van die Jode is hulle liefde vir verhale. In plaas daarvan om moeilike dinge klinies en met koue logika te beredeneer, vertel hulle verhale. Verhale wat pols met die lewe. Die lewens van egte mense. Egte verhoudings. Ook hierdie gebed (Psalm 3) is ingebed in die verhaal van ‘n lewende mens met ‘n lewende geskiedenis; iemand wat gestaan het in lewende verhoudings: ‘n Koning. Sy lewe word bedreid deur sy seun! Sy seun, Absolom begin ‘n rebellie teen hom om hom te onttroon.

Vir baie mense het gebed ‘n frustrasie geword: Maar hoekom word my gebede nie verhoor nie? Een van die redes waarom so baie van ons met gefrustreerde gebedslewens sit, is omdat ons gebed wil disekteer en in die fynste detail wil ontleed. Ons wil elke onderdeel en bestanddeel van gebed in isolasie van die lewende geheel analiseer. Wanneer ons dít doen, sit ons nie meer met lewende gebede nie, maar met dooie, lewelose woorde.

Ek herinner my aan ‘n kunswerk van die konseptuele kunstenaar, Iaan Waldeck. Iaan was verwonderd oor die skepping en die Skepper. Oor waar lewe vandaan kom. Toe gaan vra hy die wetenskaplikes om vir hom te sê uit presies watter elemente sy liggaam bestaan – en in watter hoveelhede. Hy gaan maak toe al die bestanddele van die liggaam van ‘n man van 80kg tot die laaste milligram in botteltjies bymekaar en sit dit op ‘n tafel: Daar is al die bestanddele van my liggaam! Maar dis leweloos. Dis in die fynste besonderhede in botteltjies gepak, maar daar gaan niks aan nie. Jy kan dit maar alles bymekaar gooi en die resep aanmaak – daar is geen lewe nie: En tóg: Al die bestanddele is daar!

Só is dit ook met gebed. As ons dit disekteer en dan byna klinies tot dogmas verhef, is dit leweloos. Maar verhale! Verhale sluit werklikhede in ons en tussen ons oop. Ook tussen ons en God. Gebede is óf ingebed in die lewende verhale van lewende mense met inagname van die volle werklikheid van hulle lewens, óf dis die lewelose geprewel van woorde.

Verhale ontsluit sóveel meer van die dieptes en geheimenisse van menswees en die werklikheid as dogmas, stellings en kliniese analises! En dikwels met verstommende eenvoud.

Neem byvoorbeeld die werklike verhaal van ‘n Namakwalandse oom wat bekend was daarvoor dat hy nou nie juis ‘n olieverf skildery was nie. Kortom, hy was maar aan die lelike kant. Eendag het iemand met hom daaroor gepraat. Soos ek die Namakwalanders ken, het dit waarskynlik meer as een keer gebeur! Die oom antwoord toe heel gevat, “Jong, ek was ‘n baie mooi man toe ek jonk was. Maar kort nadat ek met my vrou begin uitgaan het, het sy eendag vir my ‘n suur kweper gegee om te eet!”

Watter wysheid skuil daar nie alles in dié kort verhaaltjie nie. Dit lewe! Wat leer ons alles daaruit? Die oom het deur die eenvoud van ‘n humoristiese verhaal ten minste die volgende vrae aan sy gespreksgenote gevra:

  • Man, watter beheptheid het jy met uiterlike skoonheid?
  • (Humor): Ek ontmasker jou dwaasheid sonder om jou in die gesig te vat of vervreemding tussen ons te bring.
  • (Humor): Ek is baie gemaklik met myself, dankie!
  • Die probleem lê by JOU! Watse vraag en ingesteldheid is hierdie in elk geval?

Die oom het sóveel meer bereik met sy kort, humoristiese verhaaltjie as wat enige filosofiese en logiese gespreek ooit sou kon bereik! Verhale ontsluit die geheimenisvolle dieptes van ons betaan baie beter as dogmas en analises.

Om tot verhaal te kom

Ons vertel ons eie verhale oor en oor. Ons doen dit spontaan en selfs onbewustelik om onsself beter en hoopvol te verstaan. Soos wat dinge in ons lewens gebeur, vertel ons die verhale oor en oor in ‘n poging om tot verhaal te kom: Om ‘n lewensverhaal te hê wat oopmaak vorentoe. Om hoopvol te leef met die verwagting van ‘n hoopvolle toekoms. Ons kan onsself natuurlik toesluit deur ons verhale sonder die hoop van vergifnis en die nuwe lewe deur die opstanding van Christus te vertel.

Toe Eugene Peterson nog ‘n dominee was, het hy sy agtjarige dogtertjie eendag saam op huisbesoek geneem. Hulle het ‘n bejaarde dame wat aan Altzheimer se siekte gely het besoek. Eugene Peterson vra haar toe om haar lewensverhaal vir hulle te vertel. Nadat sy dit die eerste keer vertel het, begin sy toe van voor af en vertel die verhaal weer ‘n keer. Dit het sy vier of vyf keer gedoen. Eugene Peterson het later bekommerd geraak dat sy dogtertjie verveeld of selfs ongeskik sou raak. Maar sy het geduldig en aandagtig na die tannie se vertellings geluister. Na die tyd vra hy haar, toe, “Maar hoe het jy dit reggekry om so aandagtig na die tannie te luister terwyl sy dieselfde storie vyf keer herhaal?” Haar antwoord het hom verbaas, “Maar al wat sy wou doen, was om vir ons te vertel wie sy is, pappa!” Om tot verhaal te kom... Verhale word oor en oor vertel om dinge in ons en tussen ons en God, tussen ons en ander OOP te maak.

Só is gebede wat ingebed is in die lewende verhale van lewende mense wat ook hulle verhale en selfverstaan deel van hulle gebede maak. Sulke gebede is die gebede van mense wat uiteindelik bereid is om te verander onder gebed! Om tot ander insigte te kom onder gebed. Om nuutgemaak te word onder gebed. Om óópgemaak te word onder gebed: Oop vir God, jouself, vir ander – vir die lewe self!

Selfsugtige gebede sluit ons toe aan die binnekant

Maar: Ons wil gebede gebruik om te kry wat ons wil hê. Ons glip b.v verby God se wil as die moeder of die bedding van alle gebede deur die Bybel só aan te haal dat ons dit buig om by óns selfsugtige behoeftes aan te pas. Neem byvoorbeeld Johannes 10:10 en Matteus 7:7 en 8. Ons haal dit sommer heel gerieflik heeltemal buite konteks aan:

Joh 10:10, “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” Hiermee wil ons ‘n tipe voorspoedsgeloof regverdig, “God wil hê dat ek altyd en in alle omstandighede net die beste sal hê van alles. Dat ek altyd eerste sal kom, suksesvol en invloedryk sal wees.” Maar dan vergeet ons van Joh 10:1, “Ek is die goeie herder. Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie, maar van ‘n ander kant af inklim, is ‘n dief en ‘n rower.” Die gebed kan nie gaan oor mý oorvloedige lewe, sónder om te onthou dat dit alles eintlik gaan oor die Goeie Herder wat die Bewaker van die skaapkraal se hek is nie. Wat van sý wil vir my lewe?

Matt 7:7 en 8, “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” Maar wat van vers 11? “As julle wat sleg is, dan weet wat om vir julle kinders die goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” Ons neem ewe gerieflik die belofte dat ons sal ontvang as ons maar net vra. Maar ons vergeet dat dit die Vader is wat die Gewer is en dat Hy in sy groot wysheid sal besluit wat goed is vir ons en wat nie. Weet ons dan meer as God? Verstaan ons dieper as God wat ons nodig het en wat vir ons goed is?

Neem die model-gebed wat Jesus vir ons gegee het, die Ons Vader Gebed: “... laat U koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.” Gebede is nie ten diepste woorde wat ons prewel om ons eie sin te kry nie. Gebede is om met ons hele wese te soek na God se wil. Wanneer ons soek na die vervulling van ons eie begeertes, sluit ons toe – want ons begin soek na skuiwergate: Voorwaardes wat nagekom moet word.

Vals voorwaardes vir gebedsverhoring: Formules en (skyn) heilige lewens

Een van die skuiwergate wat ons soek om die onvoorwaardelike beantwoording van ons gebede te kry, is om te soek na die presiese, regte gebedswoorde, die regte formules om te kry wat ons vra. Dan word daar in detail in die bewoording van die gebede ingegaan. Mense sal byvoorbeeld sê dat jy sommer vóór jy al by die Here gekry het waarvoor jy vra, moet dankie sê daarvoor. Want dan wys jy dat jou geloof regtig groot is. “Vra groot,” sê hierdie supergelowiges. “En vra in detail. Moenie bid vir ‘n voertuig nie. Netnou kry jy ‘n bus. En moenie bid vir ‘n Porche nie. Netnou kry jy ‘n wit Porche. Nee, jy moet spesifiek bid: Bid vir ‘n rooi Porche!

Mens hoor dit dikwels deesdae dat daar gesê word dat jy nie ‘n vrees of onsekerheid moet uitspreek nie, want dan spreek jy dit uit oor jouself en sal dit waar word. Bv: “Ai, ek hoop die kinders ry veilig en dat hulle nie in ‘n motorongeluk beland nie,” is ‘n uitspraak wat onmiddellik “geknip word in Jesus se Naam,” want anders kan hierdie uitspraak van jou veroorsaak dat die ongeluk gebeur. Só moet mens dan ook dienoorkomstig die hele tyd “die lewe spreek” want sódoende sal dit wat goed is met jou gebeur. Só ‘n verstaan van gebed is vreemd aan die Bybel. Dit sou beteken dat ten minste al die klaagliedere en klaagpsalms uit die Bybel verwyder moet word! En verder veronderstel dit ‘n byna bonatuurlike, toweragtige krag in die blote woorde van mense.

Nóg ‘n gunsteling voorwaarde vir gebedsverhoring is (skyn) heilige lewens. Dán word daar met ‘n sekere lees van die Bybel besluit watter tipe lewens heilig genoeg is vir God en watter nie.  Hierdie lees van die Bybel, poog maar altyd om deur ‘n letterlike lees van die morele en etiese skrifgedeeltes wat hulle pas te besluit watter lewens heilig genoeg is en watter nie. Die skrifgedeeltes wat, indien jy dit ewe letterlik lees, vir jou onmoontlik of ongemaklik is om letterlik na te kom, word natuurlik gerieflikheidshalwe geïgnoreer.  Die groep wat hierdie voorwaardes stel, besluit uiteindelik sélf watter lewens heilig genoeg is en watter nie; en dit kom uiteindelik maar daarop neer dat diegene wat buite hulle eie groepering of in-groep is, toevallig ook diegene is wie se lewens nie heilig genoeg is nie. Geestelike hoogmoed en ‘n veroordelende houding jeens diegene wat nie “ware christene” is of hulle oortuigings deel nie, is ‘n kenmerk van sulke groepe.

Hoeveel desperate, siek mense is nie al in hospitale oortuig om hulle medikasie te staak as teken van regte geloof en as voorwaarde tot gebedsverhoring en genesing nie! Sommiges word selfs oortuig om hulle eie (sogenaamde vals kerke) te verlaat en by bidders se gemeente aan te sluit as voorwaarde tot die verhoring van gebede. En wanneer die gebede om genesing onsuksesvol is, word die slagoffers afgeskryf en beskuldig van “swak geloof” of selfs “bindinge en bloedlynvlekke” in hulle verlede wat hulle nie wil bely nie.

Al hierdie benaderings tot gebed en gebedsverhoring het ten minste drie dinge in gemeen:

  1. Dit soek nie na God se wil nie, maar na die vervulling van die behoeftes en begeertes van die eie (dikwels hoogheilige en vroom) ek. Sulke gebede vergeet dat gebed is om te antwoord op God en dat gebed is om die volle spektrum van die gebedslewe (ook die versoeke!) ondergeskik te stel aan die soek na God se wil.
  2. Die koue, kliniese ontledings hou glad nie rekening met die dieptes en geheimenisse van egte, lewende mense en hulle verhoudings nie. Daar is by die hoogheiliges en die bidders van formule-gebede dikwels die totale afwesigheid van die werklike, diep integrasie van my regte lewe met my gebeds- en geloofslewe. Selfregverdiging, veroordeling, geestelike hoogmoed en blindheid vir die diepte van die gebrokenheid en sonde van die eie ek gaan hand aan hand met so ‘n ingesteldheid tot gebed.
  3. En daarom sluit sulke gebede die wêrelde binne in my en tussen my en my medemens; ook tussen my en God Ek word verarm. Minder mens. Gegrustreerd. Teleurgesteld. My veroordelende, beterwetige, hoogmoedige en wettiese geloofslewe vervreem my toenemend van ander mense, ook ander gelowiges ... en uiteindelik van God.

Die bedding van gebed

So, waar begin egte, Bybelse gebed? Dit begin by wat Psalm 3 ons van gebed leer: By die diepe afhanklikheid van God. By die gestroopte wete: Ek het God nodig. Maar dan altyd op GOD voorwaardes. Daarom is gebed altyd anderkant ons begrip, analises en dogmas. Gebed is waar ‘n egte mens opreg sy of haar hele lewe en lewensverhaal plaas in die teenwoordigheid van die lewende God wie se wil ons in die eerste en laaste plek ten diepste soek.

Daarom is gebed ingebed in my verhaal: Dit verg ten minste integriteit, eerlikheid en insig in wie ek regtig (as sondaar) voor God is.

Gebed is dus waar:

Die regtige, eerlike ek

voor die lewende Here

in diepe en gestroopte afhanklikheid

bid (smeek om vergifnis, vra om hulp, kla, voorbidding doen, dankie sê, loof en prys)

terwyl ek altyd ten diepste soek na God se wil

om my dan daarby te berus

omdat ek wéét: Daar ís hoop, ook vir my.

Want die Woord en die Woord wat vlees geword het

is altyd die Eerste Woord aan my –

God se geskenk en aanbod van onvoorwaardelike liefde en genade

wat ek maar net met leë bedelaarshande kan ontvang

en dan kan met nederige dankbaarheid kan beantwoord

deur my lewe en in gebed,

sodat ek dan kan ontdek:

Dit maak oop binne-in my.

Dit maak oop tussen my en God.

Dit maak oop tussen my en my medemens.

My toekoms, óns toekoms maak oop vorentoe.

Daar ís hoop!

 

Terug