Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

05 Augustus 2018 Dr. Tinus van Zyl Familiediens

Lees preke

Skriflesing: Psalm 3

Net een rede

Die teoloog Karl Barth het gesê daar is net een rede hoekom ons bid. Hy het gesê mense hou hulle slim en dink allerhande mooi redes uit hoekom ons moet bid en dan verduidelik hulle die verskillende soorte gebede wat ‘n mens moet bid: Om God te loof en te prys, om dankie te sê vir alles wat God vir ons gee, om vergifnis te vra vir ons sonde, om voorbidding te doen vir ander mense.

Hart van gebed

Barth het gesê: Ja, hierdie soorte gebede kan ons ook bid. Dis goed om hierdie gebede ook te bid. Maar dit is nie die ware rede waarom ons bid nie. Die eintlike rede hoekom ons bid, die diepste hart van gebed, is om vir die Here te vra: “Help my!” Dis die kern van alle gebed.

Inkopielys

Dominees sal dikwels mense spot wie se gebed soos ‘n inkopielys lyk: Mense wat ‘n klomp dinge van die Here vra om vir hulle te gee of te doen. Maar daai mense wat so bid, verstaan gebed dalk baie beter as die dominees wat hulle spot.

Mag vra

Ja, somtyds vra ons vir simpel dinge, en somtyds vra ons vir die verkeerde dinge. Maar dit is nie die punt nie. Die punt is dat ons mag vra! Om vir die Here te vra: Help my asseblief, is die hart en die kern van gebed.

Ons Vader

In die Ons Vader-gebed, wat Jesus vir sy dissipels geleer vra ons 6 dinge:

  • laat u koninkryk kom, laat u wil geskied, laat u Naam geheilig word, gee ons vandag ons daaglikse brood, vergewe ons oortredinge, verlos ons van die bose

As jy nie meer kan vra nie

As jy nie meer vir die Here kan vra om jou te help nie, gaan jou gebedslewe baie vinnig opdroog.

Stilte

En dan gaan jy weer die slim teoloë kry wat vir jou sê: Maar gebed is eintlik stilte. Of: Jou hele lewe is eintlik ‘n gebed. Dis nie nodig om woorde te gebruik nie.

Twak

Twak! Natuurlik is stilte uiters belangrik. Natuurlik gaan gebed oor jou hele lewe en nie net oor die paar minute wat jy bid nie. Maar die wonder van gebed, die geskenk van gebed, is dat ons wel met die Here mag praat en vir die Here mag vra: Help my! Ek kan nie hierdie op my eie doen nie! Ek het u hulp nodig!

Wat kan U vir my doen?

‘n Ander teoloog, Rowan Williams, sê gebed is ten diepste om vir die Here te vra: Wat kan U vir my doen? Hoe kan U my help? Kom in my lewe in, en doen wat net U kan doen.

God kom dadelik

En dan sê Williams, God is so naby aan ons, God is so gretig om ons te help, dat die oomblik dat ons doen, die oomblik as ons daai “gap” vir die Here gee, dan is God daar. God kan Homself keer om ons te help as ons vir hulp vra nie. God kan nie help om in te kom, as ons Hom in ons lewe innooi nie.

Geen ander godsdiens

Geen ander geloof of godsdiens kan so bid nie, behalwe die Joodse godsdiens. Daar is een belangrike verskil tussen Christene en Jode, waarby ek later sal kom, maar Christene en Jode is die enigste van die groot godsdienste, so ver my verstaan strek, wat glo dat jy kan bid en vir God kan vra om jou te help.

Moslems en Boeddhiste

Moslems het die ongelooflike dissipline om vyf keer per dag tot God te bid, elke dag. Boeddhiste het die fantastiese dissipline van meditasie. Ons kan geweldig baie by hulle leer wat dit betref. Maar iets wat uniek is aan Jode en Christene, is die feit dat ons glo dat ons in gebed vir die Here kan vra om ons te help.

Wie is God

Dit sê ontsettend baie oor Wie ons glo God is, en hoe ons glo God is. Gebed verklap wat mense glo oor God. Hoe jy bid, is hoe jy glo. As jy wil weet wat iemand glo, vra vir hulle om ‘n gebed te doen, en jy sal presies weet wat hulle glo. As jy wil weet wat jy self glo, bid hardop, en jy sal hoor wat jy glo.

Geen filosofie nie

Want in gebed spekuleer en filosofeer ons nie: is God dalk so?, of is God dalk so? nie. Nee, in gebed, praat ons met God self, en dan vlieg alle pretensies by die venster uit, want nou praat ons met die God in wie ons glo.

Moslems: God dien nie

Vir Moslems, as ek nou erg kan veralgemeen, soos ek dit van buite af verstaan, vir hulle is die diepste oortuiging dat jy ‘n dienskneg van God is. Jy is hier om God te dien. God is nie hier om jou te dien of om jou met jou probleempies te help nie. Jy is hier om God te dien.

Boeddhiste: God help nie

En vir Boeddhiste, weereens grof veralgemeen, soos ek dit van buite af verstaan, is God nie ‘n persoonlike, historiese God wat inmeng in die geskiedenis en in mense se lewens nie. God is ‘n lewensbeginsel, God is lewe, God is energie, God is die heelal, God is in jou en God is in my, soos wat God in die natuur is.  

En daarom is dit belaglik om te dink dat God jou gaan help met jou probleme, want God is nie ‘n Persoon wat dinge doen nie. God is eintlik maar net die somtotaal van alles wat is.

Wat van bose en sonde?

Baie mense vandag, myself ingesluit, vind hierdie siening van God baie interessant en nogal aantreklik. En daar is baie mooi elemente daarin. Maar die een groot probleem met hierdie siening van God, is dat God niks kan doen aan die lyding en geweld, die sonde en onreg, die haat en boosheid in hierdie wêreld nie.

Yin en yang

Volgens hierdie siening van God, moet ons maar net aanvaar dat swaarkry en lyding deel van die lewe is, soos lig en donker, yin en yang. Maar God kan niks daaraan doen nie, want God is nie ‘n persoonlike, historiese God wat inmeng in die geskiedenis en in mense se lewens nie.

Morsige God van Bybel

Somtyds dink ek dat dit makliker sal wees om in so ‘n filosofie te glo, as om in die God van die Bybel te glo wat so betrokke raak in mense se sondige lewens en in die morsige geskiedenis van die wêreld.

Abstrakte God van filosofie

Dis so moeilik om te verstaan hoe God betrokke is in mense se lewens en in die geskiedenis, dat dit vir my baie makliker voel om maar net te glo dat God liefde is, of dat God energie is, God is alles wat is, of so iets.

Help my!

Maar die rede hoekom ek nog steeds vashou aan die God van die Bybel, is omdat dit die enigste God is vir jy kan vra: Help my, asseblief! Net ‘n persoonlike God, wat betrokke raak in mense se lewens, net ‘n historiese God, wat betrokke raak in die geskiedenis, kan iets vir jou doen as jy bid en vra: Help my!

Hoe help God?

Hoe God ons help, hoe God betrokke raak in ons lewens en in die geskiedenis, dit is misterie wat ons nie kan verklaar nie. Dit is ‘n geheimenis. Maar dat God wel betrokke is in ons lewens en in die geskiedenis, dit lê in die hart van die Joods-Christelike geloof.

Foute in geskiedenis

Nou moet ek dadelik bysê, ek dink Jode en Christene het al dikwels gruwelike foute gemaak, wanneer ons probeer verklaar hóé God betrokke raak in ons lewens en in die geskiedenis.

Selfs in Bybel

Selfs in die Bybel, en veral in die Ou Testament, is daar baie kere wat die Bybelskrywers sê: “God het ons hierdie oorlog laat wen!” Of: “God het ons gestraf vir ons sonde en daarom is ons in ballingskap weggevoer.” Of “Hierdie persoon het siek geword en gesterf, want God was kwaad vir hom.”

Nie hoe nie, maar dat

En dan is ek nie so seker of hulle dit reg het nie. Dát God betrokke raak in ons lewens, dát God betrokke raak in die geskiedenis, daarmee kan ek volledig saamstem, maar as ons begin sê hóé God betrokke raak, is daar verskillende interpretasies.

Foute van kerk

Van die grootste foute wat gelowiges al in die geskiedenis gemaak het, was wanneer hulle te seker was dat hulle weet hoe God in die geskiedenis betrokke raak en aan Wie se kant God is.

Kolonies

Soos die koloniale magte Spanje, Portugal, Frankryk en Brittanje, wat oortuig was dat God aan hulle kant is en dat hulle imperiale inname van die Amerikas, Afrika en Indië, die koninkryk van God versprei.

Weste

Of die Duitse volk wat oortuig was dat Hitler en die Nazi party God se bestiering was. Die Apartheidregering wat oortuig was dat Afrikaners die volk van God is wat deur God geroep word om oor Suid-Afrika te regeer. Die Amerikaanse regering wat glo elke keer as hulle ‘n nuwe oorlog begin, is God aan hulle kant.

Groot fout

Hoe God betrokke raak in ons lewens en in die geskiedenis, is nie vir ons duidelik nie, en ons maak groot foute as ons dink ons weet aan wie se kant God is.

Glo en bely

Maar dat God ‘n God is wat betrokke raak in ons lewens en in die geskiedenis, is een van die diepste oortuigings van ons geloof. Ons glo en bely dat die God wat ons aanbid, is nie maar net ‘n vae, neutrale energie, wat nie eintlik enige iemand kan help nie.

God van Abraham, Isak en Jakob

Ons glo en bely dat die God wat ons aanbid is die persoonlike, historiese God, die God van Abraham, Isak en Jakob, die God wat Israel uit slawerny bevry het, die God wat sy hande vuil maak in die morsige, deurmekaar, sondige lewens van mense en die geskiedenis van die wêreld.

Rede hoekom ons bid

As ons nie dit glo nie, sal daar geen rede wees om te bid nie. Dan sal ons maar net in stilte kan mediteer om onsself te probeer help. Maar dan sal daar nie meer ‘n rede wees om te bid en te vra dat God ons sal help nie.

Geen eenvoudige antwoorde nie

Hóé God ons gebede beantwoord; hóé God ons help, daarvoor is daar nie eenvoudige antwoorde of kitsrespte nie.

2 Samuel 15-18

Neem Dawid se gebed in Psalm 3 as voorbeeld. As jy regtig hierdie gebed van Dawid wil verstaan moet jy 2 Samuel 15-18 gaan lees – aangrypende, hartroerende hoofstukke in Israel se geskiedenis.

Dawid se seun, Absalom, wil sy pa onttroon as koning en smee ‘n komplot om sy pa te laat doodmaak. Stelselmatig wen Absalom al hoe meer van die volk oor na hom toe, en wanneer amper die hele volk aan Absalom se kant is, moet Dawid en sy koningshuis vir hulle lewens vlug en gaan wegkruip in die woestyn.

En daar, terwyl hulle in die woestyn wegkruip, met sy seun Absalom en amper die hele volk agter hom wat vir Dawid wil doodmaak, kan ek myself verbeel hoe Dawid in ‘n donker grot sit, dalk met ‘n klein vuurtjie, maar nie te groot nie, want hulle kruip weg, en dan begin Dawid hierdie psalm komponeer om homself en sy familie te lei in ‘n gebed tot God.

Jy kan aanvoel hoe die psalm Dawid se mense begin troos – Hulp kom net van die Here af. Die Here sal ons help. Die Here sal ons beskerm. Ons sal nie doodgemaak word nie.

‘n Dieper gebed

Maar daar is ‘n dieper gebed in Dawid se hart. ‘n Dieper kreet, wat hy nie verwoord in Psalm 3 nie, maar wat jy oor en oor lees in 2 Samuel 15-18: Here, moet asseblief net dat my seun Absalom iets oorkom nie. As iemand moet sterf, laat dit dan eerder ek wees, Here, maar spaar net asseblief my seun.

Op die ou end gebeur dit nie. Absalom word doodgemaak, en 1 Samuel 18 eindig met Dawid wat huil en weeklaag: “My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun.”

Verskil tussen Jode en Christene

Daar is een groot verskil tussen Jode en Christene. Soos die Jode, weet ons nie altyd hoe God betrokke is in die geskiedenis nie, behalwe in een geval. Daar is een geval waarin ons, as Christene, ‘n baie duidelik prentjie het van hoe God betrokke raak in die geskiedenis, en dit is in die geskiedenis van die mens, Jesus van Nasaret.

Hoe Jesus betrokke raak

Daar is baie dinge wat ons sien in Jesus, wat vir ons wys hoe God betrokke raak in die geskiedenis, soos byvoorbeeld dat God nie inmeng in die geskiedenis van bo af met mag, krag en geweld nie, maar dat God die geskiedenis beïnvloed van onder af met selfopofferende liefde, oorvloedige vergifnis en genade en met nederige diensbaarheid.

Nie afstand nie

‘n Mens sou nog baie dinge kon opnoem oor hoe God deur Jesus betrokke raak in mense se lewens en in die geskiedenis. Maar daar is een baie belangrike element, en dit is dat Jesus vir ons wys dat God nie van ‘n afstand af kyk na ons probleme en vir ons sê hoe om self ons eie probleme op te los nie, maar God kom na ons toe en God kom staan by ons ín ons nood en ons pyn.

Jesus ken ons lyding

Op die kruis het Jesus al ons swaarkry en pyn beleef, sodat ons nou nooit weer kan sê: God weet nie hoe ek voel. God weet nie waardeur ek gaan nie. Ek is alleen in my pyn en my swaarkry.

Ook die Vader

En dit is nie net waar van Jesus nie, maar dit is ook waar van God die Vader. Geen ouer wat sien hoe jou kind swaarkry, kan sê: God weet nie waardeur ek gaan nie. God weet nie hoe moeilik dit is om as ‘n ouer te sien hoe my kind seerkry nie. God die Vader ken dit.

Soos vir Dawid

As ons, soos Dawid, bid en sê: Ag, kon ek nie maar eerder die swaarkry en pyn in my kind se plek gedra het nie, kon dit nie maar eerder ek gewees het, as my kind nie, dan weet die God die Vader presies hoe ons voel.

Doop: Jesaja 43:1

Wanneer ons kinders doop, gee ons dikwels vir hulle die belofte van Jesaja 43: “1 Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.”

Vers 2

Dit is ‘n wonderlike belofte. Maar die belofte gaan verder in vers 2: “2 As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, 3 want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.”

Jesus is by ons

Dit is nie ’n belofte dat die Here ons sal beskerm van water, riviere en vuur nie, maar dat God by ons sal wees in die water, rivier en vuur. Dit is wat die doop belowe, want ons is nou verenig met Jesus, en waardeur ons ookal kan gaan, Jesus is by ons in daardie situasie.

Ons het reeds alles

Die rede hoekom Christene in gebed dinge vir God vra, is omdat God in Jesus reeds alles vir ons gegee het. Die rede hoekom ons vir God vra om ons te help, is omdat God reeds in Jesus ons met alles gehelp het. In Jesus is al ons gebede reeds verhoor en beantwoord, en daarom kan ons vra met vrymoedigheid.

Reeds alles

Een keer het ‘n geestelike begeleier my gehelp om te bid, deur vir my te sê: As jy bid, en jy vra vir God om vir jou of vir iemand anders te help, moenie begin by jou probleem nie.

Vader

Begin by die feit die persoon vir wie jy bid, reeds volledig omring word deur God die Vader se liefde, dat die persoon volledig gedra word God die Vader se trou en sorg.

Jesus

Begin daarby dat Jesus by die persoon is en dat niks maar niks, nie eers siekte of die dood, die persoon kan skei van Jesus se teenwoordigheid en liefde nie.

Gees

Begin daarby dat die Heilige Gees al reeds in hierdie persoon aan die werk is, dat die Gees die persoon troos, dat die Gees vir die persoon krag gee, geloof, hoop en liefde gee, dat die Gees aan die werk is in hierdie persoon se hart en hom of haar nooit sal los nie.

En dan

En dan, as jy daar begin, by die drie-enige God wat aktief betrokke is in hierdie persoon se lewe, dan kan jy vra wat jy vir God wil vra. Maar dan vra jy nie, omdat jy hoop dat God dalk miskien eendag die persoon sal help nie, maar dan vra jy, omdat jy weet dat God reeds besig is om hierdie persoon elke dag te help. Amen.  

 

Terug