Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

04 November Ds. André Agenbag Klassieke Diens

Lees preke

4 November 2018                                                                 Durbanville Gemeente: Klassieke Diens

Hebreërs 9:11-14, 24-28

Inleidend: Hebreërs

Hebreërs is geskryf aan tweede en derde geslag christene. Dit beteken dat die opwinding van daardie aanvanklike bekerings nou grootliks iets van die verlede is. Hier het jy die kinders en kleinkinders van daardie eerste gelowiges wat van kleins af in christelike huise grootgeword het en nou hulle pad deur die moeilike uitdagings van die lewe moet vind: Die weerlose pad van daaglikse bekering. Alles is nie bloot meer net vars en nuut nie. Volwassenheid, deursettingsvermoë en volharding word nou geverg: Heiligmaking. Hebreërs is geskryf om sulke christene te bemoedig.

Die NG Kerk vandag

Jean Oosthuizen se boek, “Die Opkoms en die Ondergang van die NG Kerk” het onlangs verskyn. Een van die stellings wat hy in die boek maak is dat die NG Kerk vir ‘n groot deel van haar geskiedenis die Nasionale Party in gebed was. Ook dat die NG Kerk sal ondergaan wanneer apartheid tot ‘n einde kom.

Die NG Kerk is maar gedurig in die media en dikwels is die publisiteit nie positief nie. Dink maar aan die manier waarop die NG Kerk die afgelope 20-30 jaar as die Apartheidskerk beskryf is. Dink ook aan die onlangse debatte rondom selfdegeslagverhoudinge.

Ook vanuit veral fundamentalistiese, charismatiese en sekere evangeliese kringe word die NG Kerk uitgebeeld as ‘n volkskerk wat nie glo in ‘n ware lewende verhouding met die Here nie. Wat die nie Bybel “reg” lees nie. Want alles is mos eenvoudig: Jy lees dit net alles LETTERLIK: “Net soos dit daar staan.” Word ons verteken as ‘n kerk wat sou sê bekering maak nie saak nie; solank jy as ‘n baba “gedoop” is...

Indien ‘n predikant in Afrikaanse films en op TV uitgebeeld word, is dit nooit ‘n pastoor of ‘n charismatiese kerk nie, dis maar feitlik altyd ‘n dominee en die NG Kerk. En die predikante word feitlik nooit positief uitgebeeld nie.

Só word daar gespekuleer oor “Die Opkoms en die Ondergang van die NG Kerk.” Die vraag is nou, “Hoe bemoedig Hebreërs ons?”

  • Hoe moet ons reageer op die tye en uitdagings van vandag?
  • Het ons ‘n toekoms in hierdie land? Of is ons inderdaad besig om onder te gaan?
  • Durbanville gemeente vier DV in 2026 (oor 8 jaar) haar 200ste bestaansjaar.
  • Is dit ons werk om die NG Kerk te laat oorleef?
  • Wil ons ten alle koste 2026 haal, sodat ons kan sê, “Ons is nou tweehonderd jaar oud?” en verkieslik selfs 2126, sodat ons kan sê, “Ons is nou driehonderd jaar oud?”

Maar dit gaan egter nie oor oorlewing nie... maar oor roeping.

Miskien moet mens teruggaan na waar alles begin het om ‘n sleutel te kry om die toekoms mee oop te sluit:

My eie roeping in die tagtigerjare:

Hier teen die middel van die jare tagtig het die roeping om predikant word in my binneste begin roer. Uiteindelik het ek ingeskryf en aangemeld vir die studies wat my sou oplei om ‘n predikant in die NG Kerk te word. Daar was egter verskeie faktore wat ‘n rol gespeel het om só ‘n roeping en loopbaankeuse ingewikkeld te maak.

Op ‘n eerste, mees basiese vlak was daar die probleem van ‘n ooraanbod aan afgestudeerde predikante: Twee honderd afgestudeerde predikante was blykbaar op daardie stadium sonder gemeentes. En ses jaar later was die syfer nóg hoër: Drie honderd afgestudeerde predikante sonder werk. Verskeie mense het vir my gevra, “Waarom wil jy ‘n dominee word onder sulke omstandighede? Jy kan mos enigiets anders gaan doen!”

‘n Tweede faktor was dat die NG Kerk in die middel tagtiger jare as instelling nog baie statuur gehad het en groot openbare invloed uitgeoefen het. Dominees was indrukwekkende manne met status in die gemeenskap. As jongmens was ek vir een van my twee dominees eenvoudig net bang. Selfs in die winkelsentrums het hy met sy swart pak en wit das inkopies gedoen. Vir die ander een, wat later ‘n predikant hier in Durbanville Gemeente geword het, was ons jongmense almal baie lief.

Daar was ook ‘n soort naïwiteit by ons oor Suid-Afrika en die toekoms. Die toekoms het oopgelê voor jou. Daarom dat mense vir my gevra het waarom ek ‘n dominee wil word, terwyl ek eintlik enigiets anders kon word wat ek wou! Ons het regtig so gedink. As jy hard genoeg werk met die talente wat jy ontvang het, kan jy gaan leer om enigiets te word.

Koos Kombuis beskryf die Suid-Afrika van daardie tyd só raak in ‘n artikel van hom wat die afgelope week in Afrikaanse koerante verskyn het. Hy skryf oor ‘n liedjie van die bekende Afrikaanse sanger, Jak de Priester: “Daai liedjie is so lekker, dit vat my so ver terug na die musiek voor my tyd, voor ek en my vriende begin vloek en suip en protesteer het op die verhoog. Goed, die protes en alles was seker nodig, maar ek besef nou eers ek is al die jare al heimlik ‘n bietjie jaloers op die liedjieskrywers van die geslag voor ons, die briljante klompie komponiste en digters van die Musiek-en-Liriek-era (Koos du Plessis en Jannie du Toit)... Jak de Priester se liedjie gryp terug na daardie era. Dit vul ‘n mens met emosies wat ek al amper vergeet het. Dit vat jou terug na ons vroeë idealisme, toe ons almal nog soveel geloof gehad het in ons land en in ons kultuur, vir alles wat Suid-Afrika puik gemaak het in die ou tyd, vir alles wat ons nog kan puik maak in die toekoms as ons net kan onthou hoe ons dit destyds reggekry het.”

Dít was die NG Kerk en ons konteks in die tagtigerjare.

Aan die ander kant was daar die kritiek op die NG Kerk:

  • Verskeie stemme, óók vanuit NG Kerk sélf, was baie krities oor die politieke bedeling van daardie tyd asook die NG Kerk se rol om dit op ‘n manier Bybels te regverdig: Vandaar die nou reeds bekende klag dat die NG Kerk die Nasionale Party in gebed was.
  • Ons as studente was baie bewus van die Voëlvrybeweging wat hier in 1989 begin het, waarvan Koos Kombuis ‘n belangrike deel was. Jong sangers en musikante wat orals opgetree het – ook op ons universiteitskampusse – en luidkeels hulle kritiek teen apartheidsbedeling te kenne gegee het.

En dan was daar die geweldige opkoms van die charismatiese kerke – wat uit die aard van die saak ook groot invloed na binne op sommige kringe in die NG Kerk uitgeoefen het: Kerke wat hulleself eintlik glad nie met die ekonomiese, politieke of sosio-maatskaplike kwessies bemoei het nie; en in sekere sin dit vandag nog nie doen nie. Wat eintlik maar net verkondig het dat alles sal regkom as almal net tot bekering kom. Soos wat ‘n prediker dit ook hierdie afgelope week verkondig het: As President Ramaphosa hom bekeer, sal hy die verkiesing volgende jaar wen. En, “If you forsake God, He forsakes you!”

Durbanville Gemeente en die NG Kerk vandag

Vandag het jy die ou kerke en die jong of nuwe nuwe kerke. Die ou kerke dra bagasie, het lang geskiedenisse asook die bagasie wat daarmee saamkom. Diepgaande debatte wat oor die dekades en selfs eeue heen hewig en vanuit ‘n verskeidenheid perspektiewe gevoer is. Debatte wat wys hoeveel gelowiges wat saam in een gemeente is van mekaar kan verskil; maar mekaar tóg op ‘n manier kan respekteer en vashou.

Die nuwe kerke fokus dikwels op daardie eerste bekerings: Herlewing. Die opwinding van die nuwe lewe in Christus, of dan die vreugde om net bevry te wees van ‘n ou kerk wat vir hulle verkramp en doods begin word het. Hierdie nuwe of jonger kerke is byderweds en by uitnemendheid eietyds. Hulle voel (nog) nie die bagasie van langdurigheid nie. By die meeste van hulle is daar ook min debat. Leierkap is dikwels outoritêr en byna eksklusief in die hande van een enkele leier met baie individuele charmisma. Alles is tog eenvoudig! Dit gaan oor die direkte inspraak van die Heilige Gees in die gemoed van die individuele gelowige. Dit gaan oor bekering, die Heilige Gees, herlewing en die letterlike lees van die Bybel. Daar bestaan nie iets soos meer as een geloofwaardige lees van die Bybel nie. Geen subjektiewe lees van die Skrif wat die vertolking daarvan filter of kleur nie. Die Heilige Gees maak tog alles duidelik! Dit gaan oor sukses en voorspoed. Die jong kerke is modern en indrukwend. Hulle moderne klanke en ervaringsgetrewe eredienste pas by die sentimente en emosies van ons eie tyd (en vermaaklikheidswêreld.) Hulle doen baie moeite om uit te vind wat die behoeftes van die lidmate is om te verseker dat hulle aan daardie verwagtinge voldoen en daardie behoeftes aanspreek.

En dan is daar natuurlik die kritiek van krities-denkende mense van buite sowél as binne die NG Kerk. Mense wat meen die NG Kerk is besig om onder te gaan, MAAR wat TOG eintlik van die NG Kerk verwag om vandag weer ‘n rol te speel. Nie invloedryk, indrukwekkend en vol statuur, soos in die ou dae nie; maar dienend, belydend. Mense wat meen die kerk moet help om ‘n samelewing te transformeer. Mense wat van mekaar verskil by mekaar uit te bring. ‘n Kerk wat WYS sy kan MEER wees as die NP (wat nie meer bestaan nie) in gebed.

Maar, sê die kritici: Juis omdat die NP nie meer bestaan nie; en al die Afrikaner Instellings so te sê almal tot niet gegaan het, het die NG Kerk die laaste bastion van die drome en ideale van die ou Suid-Afrika geword;

en probeer mense om dit ten alle koste te bewaar. En juis DAAROM sal ons ondergaan. Die NP in gebed; of dan vandag ten minste die óú Suid-Afrika in gebed.

Dalk ís GEBED juis die sleutel. Maar dan op ‘n ander manier...

Roeping: ‘n Huis van gebed

Miskien moet mens teruggaan na waar alles begin het om ‘n sleutel te kry om die toekoms mee oop te sluit: Toe Ds JC Berrangé, die konsolent van hierdie gemeente, die kerkgebou inwy op Sondag, 6 Augustus 1826, kom sy wydingsrede uit Matt 21:13: “My huis sal ‘n huis van gebed wees.” ‘n Huis van Gebed: Dít is waar ons begin het!

Ek glo dat hierdie Skrifgedeelte ‘n groot rol gespeel het in die vorming van die gemeente se identiteit en roepingsverstaan oor die afgelope 192 jaar: Om in elke spesifieke tydperk in hierdie bepaalde konteks vir God en die wêreld bymekaar uit te bring in gebed. “In gebed” beteken vir my: In ‘n intieme geloofsverhouding met God. Durbanville Gemeente as God se gebedshuis in hierdie spesifieke omgewing sê, “Hierdie wêreld is God se wêreld en God maak hierdie wêreld nuut.” Deur die loop van die afgelope 192 jaar het talle leraars en gemeentelede uitgestaan in hulle vermoë om te help om Durbanville Gemeente getrou te hou aan haar roeping om haar om geloof (en dus gebed) in die publiek te beoefen.

Hebreërs se bemoediging van sy gemeente met tweede, derde geslag christene

Dit is ook waarheen die skrywer van Hebreërs sy gemeente terugneem: Na wat ware aanbidding is. Want uiteindelik is die kern van dit alles daardie plek waar die mens WERKLIK leef; VRY leef; NUUT leef; SOOS JESUS leef; vanuit die genade van die lewende God! M.a.w: Gebed!

Gebed is aanbidding: ‘n Voortrefliker erediens

Andrie du Toit verduidelik dat Hebreërs die gemeente uitnooi om te ontwikkel in hulle eredienste (aanbidding, gebede). Hy sê Hebreërs bely in Christus... “’n Voortrefliker erediens omdat dit ’n ewige verlossing bring.” Hy wys op die besondere aard van die “maar” waarmee ons Skrifdeel begin (Heb 1:2).”

Nie alleen het Hebreërs begin (1:2) met wat Du Toit ’n “manjifieke maar” noem nie, “[h]ier in Hebreërs 9:11 kry ons net so ’n kosbare juweel”, skryf hy. Volgens sommige skrywers staan ons hier by die hoogtepunt van die hele Hebreërs. “’n Nuwe Hoëpriester, nuwe weldade, ’n groter en volmaakter verbondstent, ’n ewige verlossing, ’n volkome offer is nou in die visier.”

Let op dat die gemeente vanuit die ou erediens ontwikkel tot die nuwer, voortrefliker erediens. Dis nie ‘n verwerping van die oue nie. Dis ook nie ‘n opgaan in die oue nie. Dit is ook nie ‘n poging om die ou erediens ten alle koste te bewaar nie. Dit is ontwikkeling en groei deur terug te gaan na en te bly by die essensie: Christus, die Hoëpriester:

  • Die een wat ons verhouding met God BEMIDDEL:
  • Hier beklee Christus twee rolle (Party praat van ‘n gemengde metafoor):
    • Die Hoëpriester wat vir eens en vir altyd offer.
    • Die Hoëpriester wat Sélf die Offer is wat vir eens en vir altyd geoffer word.
  • Die Een wat ruimte skep vir mense voor God. Waar hulle kan gedy. Kan word wie hulle geroep en geskape is om te wees.

Die Hoëpriester wat sy eie lewe gee vir die mense; uitgiet vir die mense sodat dit OOP KAN GAAN tussen hulle en God. Sodat hulle deur gebed met God gemeenskap kan hê. Sodat hulle versamel kan word as ‘n heilige priesterdom. ‘n Gebedshuis.

In die tyd van Martin Luther, het die priesters die uitsluitlike reg gehad om mense se verhoudings en vergifnis met God te bemiddel. Dit is geweldig misbruik. En daarom het Martin Luther soveel inspirasie geput uit Petrus se eerste brief oor die Priesterskap van alle gelowiges. Ons is ALMAL priesters, sê Martin Luther!

1 Petrus 2

“5 Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. 6 Daarom staan daar in die Skrif (Jes 28:16): ‘Kyk, Ek lê in Sion ‘n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.’ 7 Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die woorde: ‘Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword’ (Ps 118:22) en 8 ‘’n klip waaroor ‘n mens struikel en ‘n rots waarteen jy jou stamp.” (Jes 8:14). Hulle struikel omdat hulle nie aan die woord gehoorsaam is nie. So het God dit ook vir hulle bestem. 9 Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. 10 Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.”

Slot: Ons moet nie probeer oorleef nie; ons moet ons roeping uitleef

Ons moet nie probeer oorleef nie; ons moet ons roeping uitleef. Dis juis wanneer ons ten alle koste probeer oorleef; dat ons sal ondergaan. Ons DOEL as gemeente is nie oorlewing nie. Ons DOEL as NG Kerk is nie oorlewing nie. Ons DOEL is nie om ons ondergang te probeer verhoed nie.

Jesus, die Hoëpriester, het nie ten alle koste probeer oorleef nie. Ja, het ook  bang geraak. Hy was ook volledig mens. Hy het gebid, “Vader, laat hierdie (lydens) beker by my verbygaan,” maar Hy was ALTYD en REG van die BEGIN af bewus van en getrou aan sy roeping: Die Hoëpriester wat Homself moet offer; sodat dit OOP KAN GAAN tussen God en mens.

Die meeste van ons noem onsself op ‘n manier Afrikaners. En wat dit ookal beteken, dit beteken TEN MINSTE dat ons nie meer in Europa is nie; ons is HIER, in Afrika. En ons word geroep om HIER ‘n Huis van Gebed te wees. ‘n Priesterdom.

Indien ons ondergaan, laat ons dan ondergaan terwyl ons getrou bly aan ons diepste roeping: Om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. Soms sal ons swaarkry. Maar ons word bemoedig deur Hebreërs; én deur Paulus wat in Romeine 5:3-5 aan sy gemeente skryf:

“3 Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4 en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5 en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”

Amen

Terug