Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

04 Februarie 2018 Ds. André Agenbag

Lees preke

4 Februarie 2018                                                                                Durbanville Gemeente: Klassieke Diens

Kolossense 3:22-4:6                                                                           Verbind aan die wêreld

Waarom nie sy brief afsluit met die mooi dinge, soos ware aanbidding nie?

Voordat hy groet, sluit Paulus sy brief af met ‘n ongemaklike gedeelte oor onderlinge verhoudings. Onderlinge verhoudings in die huishoudings en by die werk en onderlinge verhoudings tussen die gemeentelede en mense buite die gemeente.

Sou dit nie ‘n mooier, meer poëtiese, amper vromer en suiwerder hoogtepunt gewees het om te eindig met die woorde van Kol 3:16 en 17 nie? “Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”

Nee, Paulus eindig met dít wat die heel moeilikste is. Want dis één ding om heerlik saam te bid en saam te aanbid met die sing van psalms, lofgesange en ander geestelike liedere. Om mooi tandjies vir mekaar te maak by die tee na die tyd of by die Bybelstudies. Dis ‘n heel ander storie om huis toe te gaan en daar met geloofsvolwassenheid en geloofwaardigheid te gaan leef. Saam met die mense wat die naaste aan my is. Om werk toe te gaan en my geloof daar uit te leef. Om uit te gaan in die wêreld, tussen mense wat ek nie ken nie,

van wie ek dalk nie hou nie, wie my dalk selfs afsit of bedreig... en om daar  alles te sê en te doen in die Naam van die Here Jesus... (Kol 3:17) met opregte geloofsintegriteit. Maar, dit is waarmee Paulus die brief eindig. Want dít is waarheen hy die heeltyd oppad was: Aanbidding in die eredienste beteken NIKS sonder ‘n geloofwaardige geloofslewe by die huis, by die werk en in die wêreld nie.

En hoe op aarde gaan ons dit regkry? Hoe kan ons groei in die geloof, sodat ons dít kan regkry? Om alles wat ons sê of doen, in die Naam van die Here Jesus te doen? Ons moet vinnig net weer terugkyk en ‘n goeie oorsig kry oor Paulus se brief:

God is reeds aan die werk in die jong gemeente

Paulus begin die brief deur God te dank vir die gemeente se geloof in Jesus Christus. Hy maak melding van die geloof, die hoop en die liefde wat rééds deur die evangelie in hulle lewens gewerk en gevorm word (Kol 1:3-2:14).

Paulus se eerste Groeigeheim aan die gemeente in Kolosse is:

  • God is reeds aan die werk in jou lewe.

Agter dit alles is daar God wat alles in Christus met Homself versoen het

Kol 1:19, 20, “God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.”

Hierdie is die geheimenis wat God besluit het om aan hulle bekend te maak. En die inhoud van die geheimenis, sê Paulus in Kol 1:27 is, “Christus is in julle, Hy is julle hoop op heerlikheid.”

Kom ons som Paulus se Groeigeheime op:

  • Ja, God is reeds aan die werk in jou lewe; en die geheim is:
  • En nou: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.

Daar is mos altyd ‘n “maar.” Maar, daar was wettiese godsdiens.

Die hele Hoofstuk 2 is ‘n waarskuwing teen misleiding. Moenie dat mense julle met vals redenasies mislei nie. En veral: Moenie weggevoer word deur teorieë en argumente wat misleidend is en berus op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie.

En dan die hart van dit alles. Die boodskap wat Paulus weer en weer op verskillende maniere herhaal: Kol 2:9, “In Hom (Christus) is die volle wese van God beliggaam en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid.” Hierdie vers vloei eintlik só mooi uit vers 6, “Julle moet in verbondenheid met Christus Jesus lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.”

Die hoogtepunt van Paulus se hoofstuk oor die misleiding van wettiese godsdienstige reëls is ook die laaste vers van daardie hoofstuk - vers 23: “Hierdie leerstellings het wel ‘n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie.”

Dit is dus moontlik om godsdienstig te wees sonder om oppad na volwasse geloof te wees. Goeie godsdiens,

ware geloof en diep spiritualiteit sluit inderdaad kennis van die geloofsinhoud in. Maar die kennis is nog lank nie volwasse en innige geloof nie.

Ons het Grieks 1 by Prof Kotie Grové gehad. En in ons eerste jaar moes ons al die reëls van die Griekse grammatika uit ons koppe leer. Êrens langs die pad het ons by ‘n paar teenstrydigheide uitgekom. “Maar, Professor, hier word die reëls van die Griekse grammatika dan gebreek!” En dan antwoord Prof Grové ewe geduldig: “Eers gaan ons al die reëls leer, en eers as julle dit goed ken, kan julle die uitsonderings op die reëls leer.”

Die beeld help so ‘n bietjie om te verstaan dat leer ‘n groeiproses is. Net so is ‘n geloof ‘n groeiproses. En indien jy vasslaan by die wettiese reëls, gaan jy nie groei nie. Paulus sê dat jy maar so wetties kan wees as wat jy wil, uiteindelik help daardie reëls jou nie om jou sondige drifte te beteuel nie. En wat hy eenvoudig daarmee bedoel is die menslike natuur. Uiterlike reëls is presies dít: Uiterlik. Maar dit bring geen INNERLIKE groei nie. Met wettiese reëls gaan jou menslike natuur uiteindelik maar die botoon voer!

Vir innerlike groei om plaas te vind, moet jy hierdie godsdiens, hierdie geloof JOU EIE MAAK. Dít is die pad na geloofsvolwassenheid. Dis nou nie meer net die reëls of die versies nie. Dis nou nie meer net die goedjies wat my ouers, my kategete of die dominee my geleer het nie, EK MAAK DIT NOU MY EIE.

Kom ons som net die Groeigeheime wat ons tot dusver ontvang het op:

  • Ja, God is reeds aan die werk in jou lewe;
  • en die geheim is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.
  • EN: Jy moet dit jou eie maak.

Maak dit jou eie: Die ou en die nuwe lewe

Sóveel maak dit vir Paulus saak, dat hy hierdie twee benaderings van mekaar onderskei deur van hulle te praat as die ou en die nuwe lewe. Die ou lewe wat selfs ‘n skyn van wysheid en streng beheersing van die liggaam het, is nog uitgelewer aan wat hy in Kol 3:8 noem, “woede, haat, nyd en gevloek; en moenie vir mekaar lieg nie,” sê Paulus. Breek met daardie gewoontes.

Onthou, hy praat met gelowiges hierso. Hy praat met mense wat reeds in die Here Jesus glo. So, hy impliseer dat dit moontlik is om al gelowig te wees en steeds te lewe asof jy nog die ou, sondige mens is. Nee, jy moet met die gewoontes van die ou, sondige mens breek, sê Paulus in Kol 3:9 en 10: “Leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.”

Paulus gee vir ons twee geheime vir hierdie nuwe lewe, vir hierdie groeiende vernuwing:

Een: Strewe na die dinge daarbo waar Christus is.

Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie (Kol 3:2).

Twee: Christus is in julle.

Christus is julle hoop op die heerlikheid. Paulus help jou om dit jou eie te maak deur te help verstaan HOE Christus in jou is. Hy gebruik intieme taal. Leef van binne uit. En van buite in. Maak Christus jou eie!

Kyk net na ‘n paar van die beelde wat Paulus gebruik:

  • Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind (Kol 2:2,3).
  • Julle het mos nou vir Christus Jesus as Here aangeneem, leef nou in verbondenheid met Hom, in om gewortel en op Hom gebou (Kol 2:6,7).
  • Hou vas aan Christus. Uit Christus groeie die hele liggaam... soos God dit laat groei (Kol 2:19).
  • Julle is saam met Christus uit die dood opgewek. Strewe nou na die dinge daarbo waar Christus is (Kol 3:1).
  • Julle het gesterwe en julle lewe is saam met Christus verborge in God (Kol 3:3).

So, watter Groeigeheime het Paulus tot dusver met hulle gedeel?

  • Ja, God is reeds aan die werk in jou lewe;
  • en die geheim is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.
  • Jy moet dit jou eie maak.
  • En jy maak dit jou eie deur te lewe vanuit jou verbondenheid met Christus.
  • Jy moet vanuit Christus leef.

So, net voor die laaste gedeelte van sy brief, het Paulus geëindig by die mooi aanbiddingsgoed en dat alles gesê en gedoen moet word in die Naam van die Here Jesus, terwyl hulle God die Vader deur Hom moet dank.

Nou tref die buiteband die teer! Nou moet ons ons groeigeheime toepas!

Wedersydse Verhoudings: Inleidend

Tom Wright, wêreldwyd gereken as een van die beste Nuwe Testament kenners van ons tyd, skryf dat hierdie klompie sinnetjies oor wedersydse verhoudings in die huis en by die werk gaan oor hoe ‘n mens waarlik jouself kan wees in die Here.

Hy skryf:

Indien die huis ‘n plek van genade wil wees, moet daar reëls wees. Die mees selfsugtige lid van die huishouding mag nooit almal se vryheid beperk deur ‘n subtiele of selfs onbewustelike tiranie van selfsug nie. Hy skryf só mooi wanneer hy sê in ‘n huishouding is daar, soos in musiek wat improviseer, plek vir spontaneïeit en vryheid maar dit beteken nie dat sommiges nie in harmonie met die res van die huishouding moet speel of sing nie.

Wanneer Paulus hierdie brief skryf was daar ook ander godsdienste en filosofieë wat voorskrifte oor huishoudelike reëls op skrif gestel het. Die Stoïsyne het hulle voorskrifte gebaseer op die wette van die natuur: Dit is hoe die wêreld is, en dit is hoe jy in harmonie met die wette van die natuur leef. In die huishoudings was die basiese beginsel om jouself te laat geld.

Paulus, egter, pak die saak van verhoudings in die huishouding heeltemal anders aan. Hy begrond sy beginsels in die wet van die nuwe lewe in Christus. Christus bevry jou om waarlik mens te wees, volgens God se patroon:

nié dié van selfhandhawing nie, maar dié van self prysgawe: Om jouself vir ander te gee.

Wedersydse verhoudings: Die onderdanigheid van die vrou

Paulus was natuurlik ook ‘n kind van sy tyd. Ons hoor dit duidelik in die wyse waarop hy oor die onderdanigheid van die vrou asook slawerny praat. Tóg word Paulus se woorde al te maklik misbruik en word die fyner web van sy werklike bedoelings met die dom hande van fundamentalisme vernietig.

Paulus het reeds in Galasiërs 3:28 bevestig dat mans en vroue gelyk is voor God: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.” Onthou ook hoedat Paulus in Ef 5:21 éérs sê: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig,” vóórdat hy in vers 22 skryf: “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig...”

Paulus sê vir die vroue dat hulle nie hulle mans se lewens moet probeer regeer nie; en hy sê vir die man om sy vrou só lief te hê, dat hy, soos Christus, haar belange voor sy eie sal stel. Die man moet waak daarteen om sy vrou te verwyt omdat sy die mens is wie sy is. Hy moenie bitter en kwaad raak as sy op die ou einde ‘n egte mens en persoon is eerder as die projeksie van sy eie drome en fantasieë nie.

Wanneer mans en vroue dít verstaan, en wanneer hulle in hulle wedersydse verhouding vanuit Christus leef,

is hulle waarlik vry: vry om te groei en te ontwikkel binne die raamwerk van wedersydse liefde en respek.

Wedersydse verhoudings: Die kinders

Wat Paulus doen in vers 20 was nuut en ongekend in sy tyd: Hy spreek die kinders aan as lede of lidmate van die gemeente in eie reg. En hy gee aan hulle beide regte sowél as verantwoordelikhede. Kinders benodig dissipline; en so ook hulle ouers. Kinders se verhouding met hulle ouers, is net soos by dié van die man en die vrou, gewortel in Christus. Paulus skryf: “want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo” (Kol 3:20).

En Paulus sê vir die ouers: Moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie (3:21). Weereens gaan dit oor die huishouding as ruimte waar mense vry is om mens te wees en om hulleself te wees. Ouers, gee die kinders ruimte om mense in eie reg te wees, sê Paulus, in plaas van fotostate van hulle ouers of die waarmakers van hulle ouers se drome en ideale. Moenie deur jou kinders leef nie, sê Paulus eintlik. Hê jou kinders lief vir wie hulle IS, en nie vir wie hulle behoort te wees, vir wie hulle was, of wie hulle kan wees nie.

Wedersydse Verhoudings: Slawe

Paulus, as ‘n kind van sy tyd, aanvaar huisslawe as ‘n gegewene. Tóg was dit merkwaardig dat die eerste gemeentes só insluitend was, dat dit mense bymekaar gebring het wat nêrens anders in die samelewing as gelykes met mekaar te doen sou hê nie: Jood, nie-Jood, man, vrou, slaaf en vry.

Maar let op hoedat Paulus se woorde aan die slawe van toepassing is op alle arbeid – op alle werk: “Moenie net werk om deur hulle (jou base) raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie, maar werk met ‘n opregte hart vir die Here. Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie... Christus is die Here in wie se diens julle staan” (Kol 3:22,23).

Die Christen wat aan die werk is, wat besig is met enige vorm van arbeid, is die HELE MENS. Jy is daar as ‘n volle en omvattende mens, volledig jouself, met al jou integriteit. Jy doen nie bloot die minimum wat vereis word om dissiplinêre optrede te vermy nie.

Dink ‘n bietjie na oor wat Paulus sê. Hy sê eintlik: Selfs as werkgewers jou soos diere of erger behandel, moet slawe hulleself steeds beskou as volledig mens en niks minder nie. So, alhoewel Paulus nie slawerny veroordeel nie, beskou hy slawe as volledig mens: Mense met regte.

Kol 3:23 “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.” Ons word aangespoor om ons werk te sien as aanbidding. Dit is nie geskei, verwyder of apart van dít wat Sondag in die erediens gebeur nie. Dít is hoe ons reis na geloofsvolwassenheid. Geloofsvolwassenheid is om geloof en lewe te integreer: Om die geloof JOU EIE TE MAAK. Om Christus JOU EIE TE MAAK.

Bid en Tree met wysheid op

Paulus het ‘n bemoedigende brief vir die jong gemeente in Kolosse geskryf.

Hy het hulle geleer:

Kom ons som die Groeigeheime net weer op:

  • Ja, God is reeds aan die werk in jou lewe;
  • en die geheim is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.
  • Jy moet dit jou eie maak.
  • Jy maak dit jou eie deur te lewe vanuit jou verbondenheid met Christus.
  • Jy moet vanuit Christus leef.
  • EN: Sóveel dat jy geloofwaardige verhoudings by die huis en die werk kan hê.

En nou gaan Paulus, voordat hy groet, ‘n treetjie verder. Paulus maak die gemeente in Kolosse nou sy venote, sy medewerkers.

Volhard in die gebed, wees waaksaam en dankbaar

Hiermee keer die gelowige weer en weer terug na die groeipunt: Christus. Sonder Christus is ons niks. Alleen in verbondenheid met Hom sal ons groei in die geloof en in die lewe van die geloof. Om te bid is om reëlmatig te strewe na die dinge daarbo waar Christus. Gebed is om jou gedagtes op Christus te rig. Sodat jy uit Hom kan lewe. En wees waaksaam en dankbaar. Dit verg toewyding. Dis iets wat jy bewustelik moet doen. Dis iets waaraan jy kan werk.

Om te groei is om die geheimenis te onthul of ten minste te beliggaam

Kol 4:4 “Bid dat ek dit (die geheimenis) duidelik sal verkondig soos dit aan my opgelê is.” In die Grieks kom dit ‘n bietjie sterker uit. Om die geheimens te verkondig is om dit te openbaar of te onthul. Dit is om die geheimenis – Christus - te beliggaam, teenwoordig te stel...  geïntegreerd in elke dimensie van jou lewe

Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is (Kol 4:5)

Hier praat Paulus nie van ‘n uitreik-aksie nie. Dis nie ‘n aparte aspek van ons lewe wat as’t ware ‘n uitreik- of sendingkommissie se werk is nie.

NEE: Dit is dood eenvoudig ‘n lewe wat konsekwent vanuit Christus geleef word. Dis om orals en altyd:

  • Jouself te wees in Christus.
  • En om teenoor ALLE mense en by ELKE geleentheid Christus se gesindheid te openbaar, bekend te maak, te onthul of te beliggaam.

Nie as ‘n godsdienstige reël of wet nie; maar omdat jy dit jou eie gemaak het; en elke dag steeds meer en meer maak. Dit is die lewe van God. Dit is die lewe van Christus wat nie anders kan nie as om vanuit JOU te borrel, DEUR jou te borrel, soos strome lewende water, sodat God se lewe deur jou ander se lewens kan aanraak. Daar waar dit die moeilikste is: By die huis en by die werk. En daar waar ons paaie met andere kruis.

Maar DIT is aanbidding!

En wat julle ookal sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”

Amen

Terug