Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

03 Junie 2018 Ds. André Agenbag Familiediens

Lees preke

3 Junie 2018                                                                           Durbanville Gemeente: Familiediens

1 Samuel 3:1-10                                                                     “Praat Here, U dienaar luister!”

Inleidend:

Toe ek vir ‘n jaar predikant van die United Church of Christ in die VSA was, was dié kerk se tema, “Never put a full stop where God as put a comma: God is still speaking.” Hierdie woorde kom oorspronklik uit die laaste brief wat Gracie Allen aan haar man, George Burns geskryf het. “Moet nooit ‘n punt sit waar God ‘n komma gesit het nie.” En interessant genoeg: Daardie komma het toe ook die simbool van die “God is still speaking” geword.

Het ons nie hier by die hart van dit alles uitgekom nie? Hoe ontsagwekkend is dit nie om te dink dat die Almagtige God, die Skepper van hemel en aarde met ons wil kommunikeer, wil praat nie? En tóg is dit wat ons glo! Die Bybel vertel vir ons baie verhale van hoe God deur die eeue met sy mense gepraat het.

Maar kan dit met my gebeur? Sal die lewende Here met my¸met ons wil praat? En indien wel, hoe sal ek Hom ooit kan hoor? Ons het vanoggend gelees van ‘n jong seun, Samuel, wat vir die eerste keer beleef het hoedat die lewende Here met hom praat. Deur sy verhaal mooi te lees, sal ons ‘n hele paar kenmerke ontdek van hoe dit gebeur dat die lewende God met gewone mense praat.

Kenmerk 1:     Die eerste prentjie: Samuel rus

Die bekende psigoanalis, Carl Jung het gesê: “Haastigheid is nie van die duiwel nie; dit ís die duiwel!” Haastigheid is nie goed vir ons diepste menswees nie. Haastigheid is vernietigend. Dit verskeur en verdeel ons. Dit vervreem ons van die diepste kern van ons bestaan – daardie diepste plekkie in ons waar ons ons diepste self is en in God rus. Augustinus het lank gelede reeds gesê: “My siel bly onrustig totdat ek tot rus kom in U.” Op ‘n manier is rus en stilte nodig vir ons om die stem van die Here te hoor.

Samuel het geslaap. Hy was rustig. En daarom was hy oop en ontvanklik om die stem van die Here te hoor. Die Bybel vertel vir ons op soveel maniere dat God die inisiatief neem om met ons te praat; maar indien ons nie bewus is van wat in ons en om ons aan die gang is nie, gaan ons sy lewende stem nie hoor nie.

Kenmerk 2:     Samuel gee aandag en stel homself teenwoordig

In Gereformeerde kringe sing ons graag die lied, “God is hier teenwoordig” omdat ons glo dat die Here oral teenwoordig is en in die besonder waar gelowiges in Sy Naam vergader. Die vraag is dus nie in die eerste plek of God teenwoordig is, al dan nie. Die vraag is veeleerder: Ek is ek teenwoordig? Is ons teenwoordig? Of is ons só gejaagd dat ons nie eens in die oomblikke van ons bestaan, in die hier en die nou van ons lewens, teenwoordig is nie?

Samuel se ontmoeting met die Here wys dat hierdie teenwoordig-wees ‘n tweede kenmerk is van dié soort openheid wat nodig is om die Here se stem te hoor. So, al rus Samuel, al slaap hy, was hy teenwoordig, bewus en oop genoeg om ‘n stem te hoor en om drie keer na Eli te gaan en te sê “Hier is ek, want u het my geroep” (verse 5, 6, 8). Kan ek en jy met ons hele wese sê, “Hier is ek.”?

In ons Mannebybelstudie hierdie Vrydag, het iemand gevra, “Kan ‘n mens meer of minder van die Heilige Gees hê?” Daar is baie kerkgroepe wat praat van die sogenaamde “Second Blessing” wat nodig is om die volle krag van die Heilige Gees te ervaar. Daar word in hierdie kring dikwels gepraat van mense wat net ‘n bietjie van die Heilige Gees het, soos ‘n glas half vol water. Wanneer hulle dan hierdie tweede geskenk ontvang, loop die glas oor. Dan het hulle die oorvloedige teenwoordigheid van die Heilige Gees ontvang. En hiervoor is daar dan ‘n tweede soort ervaring nodig. Soms word dit die Doop met die Gees of die vervulling met die Gees genoem. Soms val mense in beswymings neer tydens sulke ervarings en dan word dit as tekens van hierdie ervaring van die Heilige Gees beskou. By die meeste van hierdie kerke is die spreek in tale die enigste ware bewys van hierdie kragtige teenwoordigheid en werking van die Heilige Gees. Soms sal daar selfs gesê word dat mense wat nie in tale kan praat nie, eenvoudig nie die Heilige Gees al ontvang het nie. My vorige kollega, Andries Ciliers, het altyd so treffend gesê, “Ons ontvang nie die Heilige Gees in paaiemente nie!” Die Heilige Gees word nie in porsies uitgedeel nie. Jy ontvang die volle maaltyd op een slag.

Daar is egter ‘n “maar.” Ja, ons het die volheid van die Heilige Gees ontvang, maar dit is inderdaad dat ons so afgestomp, haastig en onrustig kan wees, dat ons nie volledig oop en ontvanklik is vir die werking van die Gees en die Woord is nie. Dit is dus nie die Heilige Gees wat méér of mínder teenwoordig is nie, maar óns!

Kenmerk 3:     Samuel het begeleiding nodig: Eli (Gesamentlike Geloofsonderskeiding)

Samuel word drie keer deur die Here geroep, sonder dat hy verstaan wat met hom gebeur. Dit is die ervare priester Eli wat vir Samuel begelei om die stem van die Here te onderskei. Die aanhoor van God se stem is nooit vanselfsprekend of voor die handliggend nie. Dit moet onderskei word. Soms word daar van geloofsonderskeiding gepraat. Om die Here se stem in ons lewens te hoor is ‘n proses van geloofsonderskeiding. Dit bly ‘n lewenslange leerproses en ons kan onsself baie gelukkig ag indien ons mense soos Eli het wat ons daarmee kan help. Dit is ‘n baie wyse christen wat ander gelowiges doelbewus opsoek om hulle te vra om sáám met hulle geloofsonderskeidend te soek na die wil van die Here.

Paulus bid vir die gemeente in Filippi “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling” (Fil 1:9). En in sy brief aan die Romeine doen hy ‘n beroep op die gemeente waarmee hy hulle na die hart van die geloof neem, “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers en susters, op grond van die groot onferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêrerld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is” (Rom 12:1,2).

As kinders van die Here, as kerk van die Here Jesus Christus, het ons die roeping om mekaar hiermee te help. Ons kan dit doen tydens ons eredienste, by ons Bybelstudiegroepe, selgroepe en in onderlinge gesprekke en vrienskappe.

Kenmerk 4:     Samuel ontwikkel ‘n lewensingesteldheid van luister / geloofsonderskeiding

Uiteindelik bid Samuel ‘n kort gebed wat ‘n lewensingesteldheid van luister en geloofsonderskeiding verwoord, “Praat Here, u dienaar luister!” (vers 10). Hierdie eenvoudige gebed mag nooit vlak gekyk word nie! Wanneer dit opreg en met ‘n oop gemoed gebid word, word geloofsonderskeiding in ons gekultiveer, word ‘n luisterende lewenshouding in ons gevorm, word ‘n lewe van diep afhanklikheid van die Here in ons ontwikkel.

Willem Nicol het onlangs ‘n boek geskryf met die titel, “Oop vir die oomblik.” Dít is waaroor dit gaan! Om luisterend te leef. Oop vir elke oomblik. Oop vir die aktiewe teenwoordigheid van God deur sy Gees in Jesus Christus.

Elizabeth Barret Browning het ‘n pragtige gediggie geskryf:

Earth’s crammed with heaven,

and every common bush afire with God;

and only he who sees takes of his shoes;

the rest sit round it and pluck blackberries.

Vrylik in Afrikaans vertaal klink dit só:

Die aarde is volgeprop met die hemel,

en elke gewone bos is aan die brand met God;

en slegs hy wat sien, trek sy skoene uit;

die res sit rond en pluk swartbessies.

Kenmerk 5:     Geloofsonderskeiding veronderstel ‘n God wat aktief teenwoordig is

Die vraag is dan: Waar is die Here in hierdie situasie?

Of: Waarmee is God nou besig?

‘n Lewe van openheid vir God verg nie alleen stilte, rus, teenwoordigheid en openheid nie. Dit verg tyd en geduld. Die verhaal word vertel van twee soekende gelowiges wat ‘n woestynvader besoek het vir geestelike begeleiding. Hy het hulle gewys waar hulle kan woon en het toe drie jaar gewag voordat hy hulle die eerste keer besoek het!

Hier is die sleutelvraag: Waar is die Here in hierdie situasie? Of: Waarmee is God nou besig? Willem Nicol gee in sy boek, “Ingestel op die fluistering van God” ‘n hele klompie voorbeelde van mense wat na hom toe gekom het vir geestelike begeleiding (gesamentlike geloofsonderskeiding). Ek wil graag na twee van hierdie verhale verwys en ek haal vir Willem sommer direk uit sy boek aan:

“’n Charismatiese persoon kom na my toe. Dit is vir hom uiters belangrik om elke week sy vreugde oor God intens te beleef, veral in lofprysing. Wanneer ons egter oor sy lewe begin praat, kry ek die gevoel dat God glad nie daarin is nie. Toe hy van ‘n moeilike praktiese situasie vertel, vra ek waar God vir hom ten opsigte daarvan is. Hy ontwyk die vraag. Ek vra weer. Hy ontwyk weer. Ek vra weer en dan erken hy: ‘Ek kan hoogstens sê dat ek glo God sal my help hiermee, maar eintlik is Hy nie vir my ín hierdie situasie nie.’ Ons gebruik hierdie erkenning as ‘n deur waardeur ons dieper in sy lewe ingaan en daarin rondkyk. Ons vind dat sy bepalende voorstelling van God anders is as wat hy gedink het. God is vir hom eintlik buite die gewone, alledaagse werklikheid.  Hy voel hy moet self regkom. God is vir hom ver en vaag en hy het’n sterk lofprysing nodig om nader aan God te voel.” 

‘n Tweede verhaal: “’n Middeljarige vrou het ernstige probleme met die besigheid wat sy bestuur. Dit beland haar ook in persoonlike finansiële probleme. Ten spyte van baie spanning, bly sy moedig en kan haar probleme hanteer, behalwe elke nou en dan wanneer haar migraine vir haar onuithoudbaar raak. Dan word dit gewoonlik vir haar so donker dat sy voel sy verloor alle moed. Ek vra waar die Here is wanneer sy daar onder in die donker gat kom en sy antwoord dat sy niks te sê het nie. Daar volg ‘n lang stilte tussen ons. Ek vra haar wat sy voel. Sy antwoord, ‘Huiwering voor die geheimenisvolheid van die lewe.’ Ek vra haar om met dié vraag en huiwering te leef tot by ons volgende afspraak. Later sê sy my dat God se nabyheid in die donker anders as in die lig voel: In die donker is dit net God, sonder sy gawes. Só word ‘n groot poort voor haar oopgeskuif.”

Kenmerk 6:     Hoe kan ek deelneem aan dít waarmee God nou besig is? (Waarheen is alles oppad?)

Waarheen is ons met al hierdie luister na God en geloofsonderskeiding oppad? Waarmee is ons met hierdie openheid vir God se stem en teenwoordigheid in ons alledaagse lewens oppad? Waarom is die soeke na God se wil in ons alledaagse lewens so ‘n belangrik?

Paulus gee vir ons die antwoord. Hy skryf aan die gemeente in Korinte, “Ons word al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat Gees is” (2 Kor 3:18).

Die Gees vorm die lewe van Christus in ons. Die Gees vorm die lewe van die Opgestane Christus in ons. Dít is wat gebeur wanneer openheid, luister en geloofsonderskeiding ‘n lewensingesteldheid word.

Willem Nicol praat van “Die Groot Skuif.” Wanneer ons oop leef vir en voor God. Van binne uit. Dan vind “Die Groot Skuif” plaas. Die sentrum vir aksie skuif van my na God. My hele lewe is gerig op God, die Bron van die Lewe: Die Een wat oral en altyd aktief, lewend en liefdevol teenwoordig is.         

 

Terug