Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

03 Junie 2018 Dr. Tinus van Zyl

Lees preke

3 Junie 2018

Klassieke diens: Doop

Skriflesing:    1 Samuel 3:1-10

Onstuimige tyd

Die boeke 1 en 2 Samuel handel oor ‘n baie onstuimige, deurmekaar tyd in Israel se geskiedenis. Dit speel af 1100 jaar voor Christus.

Stamme

In daardie tyd het die verskillende stamme van Israel elkeen oor hulleself regeer. Maar van tyd tot tyd, as vyandige volke hulle aangeval en oorgeneem het, het ‘n leier na vore gekom om die stamme van Israel saam te snoer en hulle te bevry van die vyand.

Rigters

In die Bybelboek Rigters lees ons van hierdie verskillende leiers, of rigters, soos byvoorbeeld Gideon, Debora en Simson. Aan die einde van Rigters word hierdie tyd beskryf as ‘n tyd van wanorde – van godsdienstige en morele chaos.

Druk neem toe

En soos wat die bedreiging deur vyande van buite net aangehou het en ook toegeneem het, veral van die Filistyne, het die behoefte aan ‘n sentrale regeringstelsel al hoe groter geword, wat die stamme van Israel saam kan bind en kan beskerm teen aanslae van buite.

Moeilik oorgang

Maar om oor te beweeg van ‘n klomp stamme wat oor hulleself regeer, na een koning wat oor almal moet regeer, wat ook nie ‘n regeringstelsel sonder probleme is nie, was alles behalwe eenvoudig.

Realisties

Die boeke van 1 Samuel en 2 Samuel skets hierdie morsige geskiedenis in baie realistiese terme, sonder om salf te smeer oor die menslikheid en sondigheid van hierdie gebeure.

Gevaar van buite

Aan die een kant is daar heeltyd die gevaar en bedreiging van die omringende wêreld daarbuite, by name die Filistyne, wat die volk in vrees en bewing hou.

Onbekwaamheid

Dan is daar die onbekwaamheid en onbeholpenheid van die leiers van Israel om hierdie komplekse oorgang in regering te hanteer. Eli was die priester en profeet, en eintlik die leier van die volk. Maar Eli was oud en blind, en nie instaat is om die volk te lei deur hierdie ingewikkelde oorgangstyd nie.

Korrupsie

Daarmee saam was daar blatante korrupsie, uitbuiting en immorele gedrag deur sekere leiers, wat die mense se wantroue in die leierskap vererger het. By name, Hofni en Pinehas, Eli se seuns.

Hulle het meer as hulle regverdige deel van mense se offers vir hulleself gevat en ook met die vrouens geslaap wat diens gedoen het die ingang van die tent van ontmoeting. Eli het hulle hieroor aangespreek, maar hulle het hulle nie gesteur aan hulle pa nie.

Geen samewerking

So, met al hierdie bedreigings van die Filistyne van buite, die leier van die volk, Eli, wat al oud en blind is en nie die volk kan lei deur hierdie chaos nie, sy seuns Hofni en Pinehas wat hulle pa se onbeholpenheid uitbuit om hulleself te verryk, kon daar nie samewerking en eensgesindheid tussen die verskillende stamme van Israel kom nie.

Polariseer

In plaas daarvan dat die stamme van Israel verenig is deur die feit dat hulle een Here dien, die Here God wat hulle bevry het uit slawerny uit Egipte en wat hulle gebring het na die beloofde land, het die volk onder mekaar baklei en gestry en net nog meer verdeeld en gepolariseerd geraak.

Enige iets nuuts?

Nou, as ‘n mens dit so lees, dan wonder jy by jouself: Is daar enige iets nuuts onder die son? Dit is so maklik om die ooreenkomste en raakpunte te sien tussen ons wêreld vandag en die wêreld van 3000 jaar terug, dat dit eintlik skrikwekkend is.

Bybel is wonderlik

En dit is een van die redes hoekom die Bybel so ‘n wonderlike boek is. Want die Bybel probeer nie om al die foute en skandes van die verlede te verdoesel nie. Die Bybel maak nie asof ons voorvaders in ‘n “goue verlede” geleef het nie. Die Bybel steek glad nie die “geloofshelde” van die Bybel se ongeregtighede en immorele optrede weg nie.

Skokkend eerlik

Die Bybel is skokkend eerlik. Selfs die geëerde koning Dawid, wat die hoogtepunt van Israel se koninghuis was, se sondes as koning word oop en bloot beskryf, vir die volgende geslagte om te lees en van kennis te neem.

Getuig van God

Maar wat verder wonderlik is van die Bybel, is dat die Bybel getuig hoe God op ‘n onverklaarbare, misterieuse manier tog betrokke was in hierdie morsige, deurmekaar geskiedenis van Israel.

Verskillende interpretasies

Nou, die verskillende skrywers van die verskillende boeke van die Bybel, stem nie altyd met mekaar saam oor die interpretasie van hoe God by hierdie geskiedenis van Israel betrokke was nie.

1 Samuel 24 en 1 Kronieke 21

Byvoorbeeld, in 1 Samuel 24:1 lees ons dat God toornig was teenor die volk en daarom vir Dawid aangehits het om die volk te laat tel. Maar in 1 Kronieke 21:1 word dieselfde geskiedenis oorvertel, en dan sê die skrywer van Kronieke dat die Satan teen Israel was en dat dit die Satan was wat Dawid aangehits het om ‘n sensus van die volk te hou.

1 Samuel 2:25

Ek wonder byvoorbeeld oor 1 Samuel 2:25 waar ons lees dat Hofni en Pinehas nie geluister het na hulle pa se vermaning nie, “want die Here het besluit om hulle dood te maak.” Ek wonder of dit nie andersom was nie, dat die Here besluit om hulle te straf, omdat Hofni en Pinehas nie geluister het na hulle pa se vermaning nie?

Vertaling

Die vertaling uit die Hebreeus is ook moeilik, want die woordjie “want” is nie in die oorspronklike Hebreeus nie. Dit sê net:

“Hulle wou nie luister na die stem van hulle pa nie, die Here wou hulle doodmaak.”

Watter een was die oorsaak en watter een was die gevolg? Jy moet self besluit.

God is betrokke

Maar hoe ookal ‘n mens dit interpreteer, op een of ander misterieuse manier is God betrokke by hierdie morsige, chaotiese, deurmekaar geskiedenis van Israel, wat vol sonde en onreg, korrupsie en uitbuiting, foute en gebreke is.  

Wie gebruik God?

En wie gebruik God om betrokke te raak by hierdie geskiedenis? ‘n Kinderlose vrou: Hanna, wat in absolute desperaatheid ‘n kind afpleit by die Here en belowe dat as die Here vir haar ‘n kind gee, sal sy hom van kleins af aan die Here wy.

En Samuel, Hanna se kind, wat in die tent van ontmoeting onder Eli se toesig grootword. Die feit dat Samuel as ‘n seun beskryf word, beteken hy moes seker jonger as 13 jaar gewees het, want vanaf 13 jaar is Joodse seuns as mans beskou. God gebruik hierdie desperate vrou en hierdie jong kind.

God sien raak

God sien die onreg en uitbuiting wat die volk beleef. God sien die korrupsie en immoraliteit van Hofni en Pinehas. God sien die onvermoë van ‘n bejaarde Eli om sy seuns te beheer en die volk te lei. God sien ‘n volk wat die leiers wantrou en wat onder mekaar stry en verdeeld is. God sien dit alles, en God kies ‘n desperate vrou en ‘n onervare kind, om ‘n intervensie in hierdie gemors te maak.

God se weë

Hoe vreemd is die weë van die Here! Die Here se gedagtes is nie ons gedagtes nie, en die Here se weë is nie ons weë nie.

God is rolspeler

Wat so wonderbaarlik is, is dat die skrywers van die Bybel getuig dat hierdie God, wie se gedagtes nie ons gedagtes is nie, ook ‘n rolspeler in die geskiedenis is.

Onderskeid tussen God en mens

En ons moet mooi oplet na die onderskeid wat hulle maak tussen die optrede van mense en die optrede van God, tussen die woorde van mense en die woord van God.

Luister na die profete!

In hierdie onstuimige geskiedenis met soveel chaos, waarin mense nie meer weet na wie hulle kan luister en wie hulle kan vertrou nie, sou die Bybelskrywers dalk kon sê:

Luister na Eli. Hy is ons priester en profeet. God praat deur hom. Sy woorde kom met gesag van God af.

Of: Luister na Samuel. Hy is die nuwe leier van die volk. God praat nou deur Samuel. Sy woorde kom van God af.

Luister na die Woord van die Here

Maar nee, die woord van die Here kom net van die Here af, nie van Eli of van Samuel af nie. God gebruik vir Eli en vir Samuel om sy woord te laat hoor, maar nog steeds is Eli of Samuel se woorde nie gelyk aan God se woord nie.

Eli en Samuel het mekaar nodig

En dit is wat die stuk wat ons vanoggend gelees het, ook so besonders maak. Eli en Samuel het mekaar nodig om God se woord te hoor.

God het ‘n boodskap vir Eli, maar God gee die boodskap nie direk vir Eli nie. God gee die boodskap deur die kind Samuel.

Maar Samuel is nog te jonk en onervare om die woord van Here te herken. En daarom het Samuel Eli se leiding nodig om hom te help om die woord van die Here te hoor.

En selfs wanneer Samuel die woord van die Here hoor, dan is hy nog te bang om hierdie boodskap aan Eli oor te dra, want dit is swaar boodskap van oordeel oor Eli en sy seuns.

So dan moet Eli nog die boodskap uit Samuel uit trek.

Samuel se woorde

En dan, aan die einde van hoofstuk 3 lees ons: 19 Samuel het grootgeword. Die Here was by hom en het nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie. 20 Die hele Israel van noord tot suid het gemerk dat Samuel betroubaar was as profeet van die Here. 21 Die Here het toe weer in Silo verskyn, want Hy het Hom in Silo aan Samuel geopenbaar deur die woord van die Here. 4:1 Samuel se woorde was aan die hele Israel gerig.

God kies self om te praat

Die hele volk merk op dat Samuel ‘n betroubare profeet is en dat God deur hom praat. Maar tog is die woord van die Here en Samuel se woorde nie een en dieselfde ding nie. God kies uit vrye wil om die woord van die Here deur Samuel se woorde te openbaar.

Praat Here, U dienaar luister

Selfs die kind Samuel, wat van kleins af in die tent van ontmoeting grootgeword en die Here gedien het, moes die Here leerken om die woorde van die Here te herken.

En selfs die volwasse Samuel, wat die Here geken het en wat ‘n betroubare profeet van die Here was, moes telkens opnuut sê: “Praat Here, u dienaar luister,” sodat die volk nie sy woorde sal hoor nie, maar die woord van die Here sal hoor.

Dopelinge

Hierdie dopelinge wat vanoggend gedoop is, is gebore in ‘n onstuimige oorgangstyd van ons land se geskiedenis en ook in die geskiedenis van die wêreld.

80’s

Maar as ons terugdink aan die 80’er jare, toe hulle ouers gebore en gedoop is, dan was dit ook baie onstuimige en chaotiese tye in ons land se geskiedenis en ook van die wêreldgeskiedenis, met die laaste stuiptrekkings van Apartheid in ons land en die Koue Oorlog wêreldwyd.

50’s

En as ons nog verder terugdink, aan die 50’er jaare, toe hulle ouers gebore en gedoop is, dan was dit ook uiters deurmekaar tye, met die hele wêreld wat in puin gelê het na die Tweede Wêreldoorlog en die besef dat die mensdom nou met kernwapens die vermoë het om die hele mensdom en die aarde uit te wis.

20’s

En as ons nog verder teruggaan, na die 20’er jare, toe hulle ouers gebore en gedoop is, dan was dit ook dramatiese geskiedenis, met die wêreld wat net weer op sy voete begin kom na die Eerste Wêreldoorlog, toe die Groot Depressie uitbreek, en dit lei tot hernude nasionalisme, verdeeldheid en spanning, wêreldwyd, en ook hier in Suid-Afrika.

Niks nuuts nie

Ja, daar is niks nuuts onder die son nie. Maar deur dit alles, van geslag tot geslag, staan die trou van die Here vas, die Here wat was en wat is en wat sal wees.

Verbond

Dit is tog wat die doop sê. Die doop sê dat hierdie kinders is kinders van die verbond, en dat die dieselfde getroue God wat by hulle oupa- en oumagrootjies in die 20’er jare was, en by hulle oupas en oumas in die 50’er jare was, en by hulle pa’s en ma’s in die 80’er jare was, ook nou by hierdie dopelinge van vanoggend sal wees.

Dit laat ‘n mens dink aan Psalm 103 en Jesaja 40.

Psalm 103:

15 Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van 'n veldblom wat oopgaan:

16 as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg.

17 Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien,

sy trou vir opeenvolgende geslagte,

18 vir dié wat getrou bly aan sy verbond en sy voorskrifte nakom.

Jesaja 40:

6 Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos 'n veldblom:

7 gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai.”

Dit ís so, die volk is soos gras.

8 Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.

Nie statiese woord nie

Hierdie woord van God wat vir ewig bly, is egter nie iets staties en onveranderlik, wat lank terug vasgevang is en nou vir alle tyd en ewigheid in yster gegiet is nie.

Lewende woord

Hierdie woord van God is die woord van die lewende God wat in elke nuwe tyd en omstandigheid die woord van die Here nuut en lewend spreek.

“Dit staan in die Bybel”

Daarom is dit nie so eenvoudig om te sê: “Maar dit staan in die Bybel” of “Dit sê so in ons belydenisskrifte” of “My dominee het dit van die kansel af gepreek...” nie.  

Nog nie God se woord nie

Want dat dit in Bybel staan, of in die Belydenisskrifte, of dat die dominee dit van die kansel af gepreek het, maak dit nog nie die woord van die Here nie. Die Satan het ook die Bybel aangehaal toe hy vir Jesus in die woestyn versoek het.

God kies self om te praat

Wat die Bybel, of die Belydenisskrifte of ‘n preek die Woord van die Here maak, is die feit dat die lewende God kies om deur sy Gees met ons te praat deur hierdie menslike woorde.

Ons kan nooit dink ons het dit nie

En daarom is dit so belangrik dat ons nooit dink ons weet wat die woord van die Here sê nie, maar dat ons telkens opnuut onsself sal oopstel dat die lewende God deur sy Woord en Gees met ons sal praat.

Praat Here, u dienaars luister

Omdat die woord van die Here lewend en kragtig is, en in elke nuwe tyd en situasie nuut en vars met ons praat, daarom is dit so belangrik dat ons telkens opnuut sal bid: “Praat, Here, u dienaars luister.” Amen.  

Terug