Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

02 September 2018 Dr. Tinus van Zyl Klassieke Diens

Lees preke

2 September 2018

Klassieke diens: Doop

Psalm 23 – Praying our fear

Skriflesing:    Psalm 23

Twee prentjies

Ons kry twee prentjies van God in hierdie Psalm. Die een prentjie van God is die prentjie van ‘n Herder. ‘n Paar maande terug, op Goeie Herder-Sondag, het ek hieroor gepreek. Maar vanoggend wil preek oor die ander prentjie wat ons van God kry in hierdie Psalm, en dit is die beeld van ‘n Gasheer.

Gasvryheid

In die tyd van die Ou Testament was gasvryheid ‘n verskriklik belangrike deel van die samelewing – dit was een van die belangrikste waardes van die gemeenskap.

Vlugteling

En daarom as jy op die vlug was van mense wat jou wou doodmaak, en iemand het jou ontvang as ‘n gas in hulle huis of in hulle tent, dan was jy veilig. Jou vyande sou nie waag om jou dood te maak as jy ‘n gas is in iemand anders se huis nie, want dit sou ‘n geweldige skande wees om die gasheer so te onteer. 

Verbeel toneel

So julle kan hierdie toneel in julle gedagtes sien afspeel. Iemand is besig om deur die woestyn te hardloop en daar is ‘n magdom mense wat hom agtervolg om hom dood te maak.

In die verte sien hy ‘n tent. Soos hy aangehardloop kom, skreeu hy: Help my! Help my! My lewe is in gevaar! ‘n Vriendelike gesig loer by die tent uit, en nooi die vlugteling in sy tent in.

Oomblikke daarna daag die massas met hulle swaarde en messe op. Die tentflap is wawyd oop en hul sien duidelik dat die persoon wat hulle wil doodmaak, is nou ‘n gas in hierdie huis. Hulle durf nie aan hom raak nie.

Nou staan en wag die hordes buite die tent. Die oomblik wat die vlugteling sy voet by die tent uitsteek, maak hulle hom dood.

Maar die gasheer lyk hoegenaamd nie gespanne of bekommerd nie. Terwyl die massas daar buite staan en hulle swaarde en messe slyp, begin die gasheer om rustig ‘n tafel te dek vir sy gas.

Hy hanteer hierdie vlugteling soos ‘n eregas. Eers was hy sy stowwerige voete met warm water, ook sy vuil hande en gesig, en droog dit goed af. Daarna vat hy reukolie en smeer dit oor die gas se hoof, tot die hele tent na reukolie ruik.

Dan begin die gasheer om die tafel te dek met kos. Hy gooi sy eregas se beker tot bo toe vol met wyn.

Uiteindelik gaan sit die gasheer ook aan by die tafel. Hy dank God vir die voedsel. Hy vra God se seën oor sy gas. Hy bid vir die skare buite die tent. En dan eet die gasheer en sy eregas rustig, terwyl hulle gesels en wyn drink, tot laat-laat in die nag.      

Praying our fear

Eugene Peterson se opskrif vir Psalm 23 is: Praying our fear – om ons vrees tot God te bid. Dit kom uit vers 4 wat sê: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie. Want U is by my.” Die 1953 vertaling het gesê: “Ek sal geen onheil vrees nie.” Die NIV: “I will fear no evil.”

FDR

Franklin D. Rooseveldt het met sy inhuldiging as die Amerikaanse president in 1932, te midde van die groot depressie, gesê: “So, first of all, let me assert my firm belief that the only thing we have to fear ... is fear itself — nameless, unreasoning, unjustified terror which paralyzes needed efforts to convert retreat into advance.”

Uiterlike vrese

Ons almal het verskillende vrese. Ons het uiterlike vrese – dinge wat ons van buite af bedreig, wat ons bang en angstig maak – miskien ons land se politieke situasie, of die ekonomie, of grondhervorming, of misdaad?

Innerlike vrese

En ons het innerlike vrese – dinge binne-in ons wat ons bekommerd en benoud maak – sal ek die mas opkom, sal ek kan oorleef, sal ek goed genoeg wees, sal ek kan byhou by ander, sal ek myself kan handhaaf, sal ek staande kan bly in moeilike omstandighede?

Vrese namens ander

En dikwels is van ons grootste vrese nie oor onsself nie, maar oor ander mense – oor ons vriende of familie, oor ons kinders of kleinkinders. En die rede hoekom hierdie vrese so akkuut is, is omdat ons so magteloos is om enige iets daaraan te doen.

Ons eie vrese kan ons nog op ‘n manier self aanvat en in die gesig staar, maar wanneer ons vrese het namens ons geliefdes, staan ons meestal met afgekapte hande, absoluut magteloos om enige iets daaraan te kan doen.

Vrees vir dood

En dan is daar natuurlik die vrees bo alle vrese, naamlik die vrees vir die dood. Die vrees vir my eie dood, wat die groot onbekende is, maar ook die vrees vir my geliefdes se dood, die vrees vir my kind se dood.

Weggesteek

Dikwels is hierdie vrese so diep begrawe in ons gemoed, dat ons nie eers bewustelik daaroor sal nadink of dit oor ons lippe sal bring om dit op die naam te noem nie.

Vermom as woede

En selfs wanneer ons dit regkry om bewustelik oor ons vrese na te dink of daaroor te praat, dan presenteer dit meestal nie as vrees nie, maar dan vermom die vrees homself dikwels in woede of in frustrasie.

Ek het al self gevind dat as ek ontplof in frustasie en woede, dan is dit meestal omdat daar onderliggend ‘n onuitgesproke gevoel van magteloosheid en vrees is, en wat nou as woede na die oppervlak kom.

Hoe hanteer ons dit?

So die vraag is, hoe hanteer ons hierdie vrese, daardie gevoel van angs en magteloosheid, wat die dryfveer van so baie van ons gedrag is?

Noem op die naam

Die antwoord is: Ons moet ons vrese in gebed vir God op die naam noem.

Naamloos

As ons ons vrese op die naam kan noem, verloor hulle onmiddelik die helfde van hulle krag. Dis wat Franklin D Roosveldt noem “nameless, unreasoning, unjustified terror which paralyzes” – naamlose vrese, wat dikwels tot ‘n groot mate irrasioneel en ongegrond is, maar wat ons verlam.

Verloor krag

Sodra ons ons vrese op die naam kan noem, verloor hulle die helfde van hulle krag, want dan kolk hulle nie meer daar onder in ons onderbewuste – hier onder in ons maag rond nie, maar dan bring ons hulle na die oppervlak, dan bring ons hulle in die lig, in God se lig, en ewe skielik sien ons dit vir wat dit is, dit is maar net vrees.

Veg, vlug, vries

Daar is niks fout daarmee om bang te wees nie. Vrees beskerm my teen gevaar, deurdat dit die veg, vlug of vries reaksies na vore bring. As ek ‘n gevaarlike spinnekop sien, dan veg ek: ek slaan ek hom dood. Of as ek ‘n gevaarlike slang sien, dan vlug ek: ek hardloop ek weg. Of as ek ‘n leeu sien, dan vries ek en ek roer nie spier nie.

Misplaaste reaksies

Die probleem is dat ons dikwels ‘n misplaaste reaksie het vir die betrokke gevaar wat ons bang maak. Ek is angstig oor ons land se ekonomie, maar nou is ek ongeskik met elke bedelaar, asof dit hulle skuld is. Ek is bang my besigheid gaan ondergaan, maar nou baklei ek met my kliënte, asof dit hulle skuld is. Ek is bekommerd oor my kinders se toekoms, maar nou raas ek met hulle oor hulle huiswerk, asof dit die probleem gaan oplos.

Waar veg, vlug of vries ek?

Somtyds, om agter te kom waar jou vrese lê, moet jy jouself afvra, waar in my lewe veg ek, waar in my lewe vlug ek en waar in my lewe vries ek? En is hierdie reaksies gepas vir die situasie? Help dit die situasie? Of veg ek, vlug ek of vries ek, omdat daar ‘n onderliggende vrees is, wat ek nog nie na God toe gebring het in gebed nie?

Wat maak God met vrees?

Wat maak God met ons vrese wanneer ons dit begin opnoem in gebed? Miskien kan Dawid se prentjie van God as ‘n Gasheer ons help, in dié sin dat God nie die dinge wat ons bang maak uit ons lewe laat verdwyn nie. Nee, al ons teëstanders staan nog steeds buite die tent en wag vir ons.

God is by ons

Maar God ontvang ons as ‘n eregas, voor die oë van ons teëstanders, en God dek vir ons ‘n tafel. Wanneer ons ons vrese na God toe bring in gebed, word ons herinner dat God by ons is, te midde van alles wat ons bedreig en bang maak.

Gasheer is ook in gevaar

Soos die gasheer, wie se lewe ook in gevaar is met die bloeddorstige skare wat die tent omsingel, so is God by ons binne-in elke gevaar. Selfs in die dal van doodskaduwee, sê die Psalm, ook daar is God by ons. 

Doop

Dit is wat die doop ook vir ons kom sê. Die doop sê ongelukkig nié dat ons as gedooptes gevrywaar is van enige swaarkry of seer in die lewe, dat God ons sal beskerm teen alle gevare en vyande nie.

God is by ons

Maar wat die doop wel vir ons sê, is dat God by ons sal wees, in elke gevaar, in elke moeilike situasie, wanneer ons gekonfronteer word deur teëstanders of aangeval word deur vyande.

God kom tent opslaan

God sal daar by ons wees, binne-in die woestyn, tussen al die massas vyande wat ons wil doodmaak. Dáár sal God kom tent opslaan en ons innooi. Dáár sal God by ons wees, binne-in die gevaar.

God die Vader

Die doop sê dat te midde van alles wat ons kan bedreig, word ons omvou met God die Vader se liefde en goedheid, word ons ontvang in die huis van die Vader as ‘n eregas.

God die Seun

Die doop sê dat Jesus Christus, wat self doodangs beleef het in die tuin van Getsemané,dat Hy by ons is in ons nood, want Hy is Immanuel – God met ons. Ons het saam met Christus gesterf en opgestaan, en daarom kan niks maar niks in die skepping, nie eers die dood, ons nou meer skei van Christus se nabyheid en liefde nie.

God die Gees

Die doop sê dat die Heilige Gees in ons werk om ons moed te gee wanneer ons moed ons begewe, om ons krag te gee wanneer ons oorweldig voel, om ons te troos wanneer ons platgeslaan is, om ons geloof en hoop te versterk wanneer ons twyfelend en wanhopig raak.

God wat was, is en sal wees

Vrees is die bedreiging van ‘n onbekende toekoms. Maar die doop sê dat die drie-enige God wat in die verlede by ons was, die God wat nou by ons is, ook in daardie onbekende toekoms by ons sal wees.

Jesaja 43

Die doop herinner ons aan God se belofte in Jesaja 43:

1 Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel:

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

2 As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;

as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie,

3 want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.

Amen.

 

Terug