Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

01 Julie 2018 Ds. Rian Verster Klassieke Diens

Lees preke

Sondag 1.7.2018.

Klassieke Diens

Teks:  Mark 5:21-43

1. Die eerste 20 verse van Mark 5 handel oor die genesing van die besetene van Gerasa. Wat opval in die vertelling is die hooploosheid van hierdie man oor ‘n lang tyd. Alle pogings om hom te help of miskien om die gemeenskap teen hom te beskerm, het misluk. Hand-en voetboeie kon hom nie onder bedwang bring nie en selfs ‘n poging om hom met ‘n ketting te bind het nie gewerk nie.

Toe Jesus hierdie man in sy nood en hooploosheid raakloop het Hy ingegryp en die man genees!

2. In 5:21-42 word vertel van nog twee mense wie se omstandighede hooploos was. Die twee vertellings van Jairus se dogtertjie en die vrou word inmekaargevleg. Ek wonder daaroor, wat sou Markus se doel hiermee wees?

Wat egter duidelik is is dat Jesus, anders as die kultuur en gees van sy tyd, toelaat dat Hy onderbreek word. Dat Hy luister en aandag gee en omgee en help.

Aan die begin van die teks is dit nie duidelik hoe ernstig siek Jairus se dogtertjie is nie, dit ontdek ons eers as die boodskap kom dat sy dood is.

Die vrou se omstandighede is meer oop. Haar pad was nie maklik nie, in elke episode van haar siekte  was sy godsdienstig onrein, volgens die godsdiens en kultuur van haar tyd. Elke keer moes sy na die Priester gaan vir die gebruiklike reinigingsseremonies. En dit was nie al nie, alles en almal waaraan sy geraak het het ook onrein geword en moes dieselfde prosedure deurmaak. Dit verklaar waarskynlik waarom sy ongemerk aan Jesus wou raak. Die teks sê, alles wat sy gehad het het sy aan Doktersgeld bestee en dit was sonder sukses. Jesus maak egter ‘n punt daarvan om hierdie vrou as’t ware in die openbaar uit te wys.

Mens sou verwag dat Hy meer sensitief sou wees, miskien agter die hand vir haar fluister, “kom later terug na my toe as die mense weg is.”

Maar Jesus is nie daarop uit om haar verder te verneder nie, maar om vir haar en die mense wat daar bymekaar was op ‘n duidelike manier te sê dat die koninkryk van God besig is om deur te breek in hierdie wêreld.

Ook as die boodskap kom dat Jairus se dogtertjie dood is – mens kan jou indink, die finaliteit, die skok, dis verby – moenie die Leermeester verder bemoei nie!

Dan die wonder, nee dis nie verby nie, want die Here is hier. Let net op Jesus se empatie, Sy omgee en medelye. Hy laat toe dat Hy onderbreek word, Hy gaan staan en Hy luister na die nood en Hy help. Hy sê vir die vrou, “gaan in vrede, jou geloof het jou gered.” En vir Jairus, “moet jou nie ontstel nie, bly net glo.” En as die dogtertjie uit die dood opgewek is sê Jesus, “gee vir haar iets om te eet!”

God se koninkryk in Jesus Christus kom bars nie in in mense se nood en pyn nie. Maar met groot begrip en fyn aanvoeling gee Hy Sy liefde en genade.

3. Die teks help my om krities na ons kultuur en ons doen en late te kyk!

Het Jesus maar net ingegryp en mense se nood verlig, is dit maar al waaroor dit gaan? Of is Hy reeds besig om mense opgewonde te maak oor die feit dat God se koninkryk hier is? Daarom dat die mense in die teks en ons wat vandag luister, raaksien dat God se koningskap in Christus ook vir ons is!! Dat Sy liefde en omgee ook vir ons in ons nood raak. En, baie belangrik dat dit ons opgewonde maak en aanspoor om as burgers van Sy koninkryk Sy voorbeeld te volg en ‘n verskil te maak!

Dit is tog so dat ons in ‘n groot mate ‘n individualistiese kultuur is, heel dikwels ken ons nie eers ons bure nie en dit pla ons ook nie eintlik nie. Ons word nie altyd deur ander se nood geraak nie, heel dikwels stap ons maar verby. Ons het afgestomp geraak deur die hardhead rondom ons. En ons weet nie meer lekker hoe ons uit hierdie kokon moet kom nie.

4. Is dit ‘n kwessie van geloof dalk?

Deins ons terug vir die uitdagings omdat ons nie meer glo dat daar ‘n verskil kan kom nie?

In die teks word geloof duidelik uitgelig.

Vers 34 – “dogter, jou geloof het jou gered.”

Vers 36 – Jesus vir Jairus, “moet jou nie ontstel nie, bly maar net glo.”

Is hierdie “glo” ‘n innerlike vermoë wat ons het of nie het nie?

Nee, hierdie geloof is in God en in Jesus wat oor eeue bewys het dat Sy fokus op hierdie wêereld en mense is! Om dan as dissipels van Jesus te bly glo beteken dat ons in alle omstandighede, hoe goed of sleg ookal sal weet dat die Here hier teenwoordig is en dat Hy omgee. Hy is die hoop vir ons wat hoop verloor het.

 

 

Terug